Tshegofatso Pule se moordenaar kry lewenslank

Ntuthuko Shoba in die hof. (Foto: NPASouthAfrica/Twitter)

Die man wat sy swanger vriendin laat vermoor het, is lewenslange tronkstraf opgelê.

Die Johannesburgse hooggeregshof het Ntuthuko Shoba Vrydag gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan moord met voorbedagte rade op Tshegofatso Pule. Haar liggaam is in Junie 2020 gevind waar dit aan ʼn boom gehang het.

Pule (28) was agt maande swanger ten tye van die moord.

Die uitspraak is wyd verwelkom.

“Ons loof die polisie en regstelsel vir hulle harde werk in hierdie saak. Die vonnis wat opgelê is, stuur beslis ʼn sterk boodskap oor hoe die gereg oortreders van geslagsgeweld behandel. Die groot getal vroue wat geraak word deur hierdie tipe geweld en vrouemoord bly egter kommerwekkend,” het Phumla Williams, woordvoerder van die president se kantoor, Vrydag gesê.

Tshegofatso Pule (Foto: Twitter)

Pres. Cyril Ramaphosa self het die vonnis as “gepas” beskryf en gesê geregtigheid het geskied vir twee lewens wat so wreed weggeneem is.

Die kommissie vir geslagsgelykheid het gesê hoewel hulle tevrede is met die vonnis, hulle bekommerd is oor hoe lank dit vat vir hierdie tipe sake om afgehandel te word. “In hierdie geval moes Pule se familie vir twee jaar wag om afsluiting te kry,” lui die kommissie se verklaring.

“Die kommissie se monitering van die hofprosesse oor die jare het gewys dat die regstelsel steeds gepootjie word deur ʼn gebrek aan kapasiteit deur die polisie om sake behoorlik te ondersoek en ʼn gebrek aan belangrike getuienis, wat dan veroorsaak dat die staat se saak inmekaarval.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.