Tshwane-metro, Voortrekkermonument vat hande teen misdaad

Die Voortrekkermonument. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Die Voortrekkermonument (VTM) is een van Pretoria se prominentste bakens wat jaarliks deur duisende mense besoek word en dit kan nie toegelaat word dat misdaad dit beïnvloed nie.

Kingsley Wakelin, burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe en gedeelde dienste, het sy kommer oor die skerp toename in misdaad in en om die Voortrekkermonument uitgespreek nadat hy Vrydagoggend die bestuur van die monument ontmoet het.

Dit volg nadat ’n petisie van stapel gestuur is om beter samewerking met die munisipaliteit te bewerkstellig nadat noodsaaklike opgraderings wat die Tshwane-metro by en aan die grense van die Voortrekkermonument móét doen, al vir drie jaar afgekeur is.

“Die Voortrekkermonument het die afgelope paar jaar ’n toename in misdaad en vandalisme ervaar, wat die veiligheid van werknemers, besoekers en die integriteit van die monument self bedreig het,”  het Wakelin gesê en terselfdertyd sy skok uitgespreek oor twee onlangse gewapende rooftogte by die monument waarin besoekers en personeel betrokke was. “Dit is onaanvaarbaar en kan nie toegelaat word om sienderoë voort te gaan nie.”

Wakelin het Vrydagoggend met dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK en die Voortrekkermonument, en ander verteenwoordigers van die monument vergader om verskeie opsies te bespreek om veiligheid op te skerp ten einde die monument en die omliggende natuurreservaat veilig vir werknemers en besoekers te hou.

“Die vergadering was uiters produktief, en ek glo dat ons ’n sterk grondslag vir toekomstige samewerking gelê het. In die komende weke sal ons strategieë oor die pad vorentoe met verskeie stadsdepartemente ontwikkel.

(Foto verskaf deur die Voortrekkermonument)

“Ek is ook baie beïndruk met die proaktiewe maatreëls wat die monument getref het om die veiligheid van hul personeel en toeriste wat hierdie ikoniese monument besoek, te verseker.

As ons die stad se huidige finansiële beperkings in ag neem, verwelkom ons nou meer as ooit nie-regeringsorganisasies en gemeenskappe om hande te vat met die stad en saam te werk om positiewe verandering te bring.”

Gerhard Pretorius, kommunikasiebestuurder van die VTM, het vroeer gesê die grensdrade, waarvoor Tshwane-natuurbewaring verantwoordelik is, moes reeds meer as drie jaar gelede opgradeer en vervang word.

Aansoek vir hierdie befondsing is by die metroraad gedoen, maar is steeds nie goedgekeur nie.

“Ons sit hier op ’n 341 hektaar plaas. Die nommer een vereiste vir veiligheid op ’n plaas is grensdrade. As die grensdrade nie op standaard is nie, soos wat dit nie nou is nie, dan skep dit ’n enorme veiligheidsrisiko vir almal wat die Voortrekkermonument besoek.

(Foto verskaf deur die Voortrekkermonument)

“Ons het reeds van ons kant af verskeie veiligheidsmaatreëls ingestel soos hondepatrollies op die terrein, veldwagters wat die natuurreservaatgebied patrolleer, perdepatrollies wat in die veld asook die grensdraad patrolleer, kamerastelsels en nog meer. Ons wil graag net beter samewerking kry met die metroraad, want dit gaan oor gelyke behandeling waar belastingbetalers se geld ons erfenis en ons mense ook moet help veilig hou,” sê Pretorius.

Verder is die beveiliging en beskerming van infrastruktuur buite die grense van die monument ook ’n enorme probleem wat duisende rand se impak op die VTM self het.

Van 20 Maart tot 19 April het die VTM spesifiek weens kabeldiefstal, en nie beurtkrag nie, sewe dae lank sonder elektrisiteit gesit.

Volgens Pretorius moes die monument sedert die begin van die jaar weens kabeldiefstal meer as R70 000 se brandstofonkostes aangaan vir kragopwekkers net om die nommer een- toerismebestemming in die hoofstad van die land se deure oop te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.