Tshwane-varsproduktemark kry nuwe baadjie

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Die Tshwane-metroraad het Donderdag tydens ʼn raadsvergadering ʼn omkeerstrategie vir die Tshwane-varsproduktemark goedgekeur om handel en algemene dienslewering by die mark te verbeter.

Maroela Media het vroeër berig dat boere, landbouverenigings en markagente bekommerd is oor die gebrek aan sekuriteit, swak onderhoud, higiënestandaarde en die doeltreffendheid van die markbestuur by die Tshwane-varsproduktemark.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Die mark is ʼn prominente handelsentrum vir landbouprodukte en speel ʼn belangrike rol in die metro se ekonomie. Met ʼn omset van ongeveer R4 miljard per jaar – waarvan die Tshwane-metro 5%, of ongeveer R20 miljoen per maand vir die bedryf van die mark invorder – is daar talle vrae oor waarom daar nie meer geld aan instandhouding bestee word nie.

Peter Meijer, VF Plus-raadslid in die Tshwane-metro, sê ná volgehoue druk van die party is daar ná 15 maande uiteindelik besluit om ʼn omkeerplan vir die mark te bewerkstellig.

“Dit is vir ons ʼn groot mylpaal; ná 20 jaar se agteruitgang is die Tshwane-varsproduktemark nou weer op die regte spoor.”

Volgens Meijer moet verskeie prosesse egter gevolg word, wat beteken die omkeerstrategie sal dalk nie so gou voltooi word as wat hulle sou wou hê nie.

“Ek verwag dat ons minstens binne die volgende jaar ʼn groot verskil sal sien.”

Meijer sê die strategie behels verskeie onder meer die opgradering van infrastruktuur om ʼn “moderne, veilige en gerieflike omgewing” vir almal wat die mark besoek te verseker.

“Die mark sal herontwerp word om logistieke vloei te bevorder wat die koop en verkoop van produkte sal vergemaklik.”

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

ʼn Geïntegreerde inligtingstelsel sal aangewend word om transaksies en kommunikasie tussen alle belanghebbendes te bevorder en die mark sal ook ʼn aktiewe rol speel in die bevordering van omgewingsbewustheid met die inwerkingstelling van hernubare energiebronne, afvalherwinning en waterbesparing.

Volgens Meijer sal die VF Plus, as deel van die veelparty-koalisieregering, met belanghebbendes soos markagente, boere, handelaars en verbruikers saamwerk om te verseker dat die nuutontwerpe mark aan almal se behoeftes voldoen.

Die party glo dat die Tshwane-varsproduktemark met sy nuwe baadjie ʼn langdurige uitwerking gaan hê op die landbougemeenskap en die plaaslike ekonomie.

“Die omkeerstrategie is ʼn aanduiding van die metro se toewyding om deurlopende groei en welvaart te bevorder en te voldoen aan die landbougemeenskap se veranderende behoeftes,” sê Meijer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.