Tshwane-varsproduktemark: Vordering gemaak, maar steeds nie genoeg

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Van piesangs en pampoene tot die groenste soetrissies en bokse vol bone. By die Tshwane-varsproduktemark kan besoekers alles kry – en dit teen ʼn appel en ʼn ei.

Boere, landbouverenigings en markagente is egter bekommerd oor ʼn gebrek aan sekuriteit, swak onderhoud, higiënestandaarde en die doeltreffendheid van die markbestuur by die Tshwane-varsproduktemark.

Met ʼn omset van ongeveer R4 miljard per jaar – waarvan die Tshwane-metro 5%, of ongeveer R20 miljoen per maand vir die bedryf van die mark invorder – is daar talle vrae oor waarom meer geld nie aan instandhouding bestee word nie.

Kenners sê varsproduktemarkte, waarvan die Tshwane-varsproduktemark die land se naasgrootste is, speel nie net ʼn belangrike rol in die bepaling van voedselpryse nie, maar is ook die sleutel tot voedselsekerheid vir kwesbare gemeenskappe en is verantwoordelik vir soveel as 80% van alle varsprodukteverkope in die land.

Maroela Media het vroeër berig dat die Tshwane-metroraad ingevolge ʼn hofbevel R18 miljoen moet belê vir die inwerkingstelling van ʼn plan om hierdie belangrike ekonomiese middelpunt behoorlik in stand te hou.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Die Instituut vir Markagente van Suid-Afrika (Imasa), ʼn nie-winsgewende organisasie, is egter steeds in ʼn stryd gewikkel om die plaaslike owerheid te dwing om sy pligte by die varsproduktemark in Tshwane na behore na te kom.

“Ná jare lange onsuksesvolle gesprekke met die metro was die enigste opsie om verlede jaar ʼn mandamus-proses te volg wat die metro met ʼn hofbevel dwing om die plig wat hy wetlik verplig is om na te kom, inderdaad na te kom.”

Waarnemende regter Shereen Meersingh het destyds beveel dat die stad ʼn gebiedsplan moet voorlê waarin die beroepsgesondheid en veiligheidsbestuur van die mark, die finansiële bestuur, gehaltebestuur en besonderhede oor die inwerkingstelling van die plan uitgestippel word.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

“Ons is steeds besig met die mandamus-proses. Die eerste hofuitspraak in Oktober het in ons guns getel, maar geen planne van die stadsraad is sedertdien ontvang nie.”

Imasa het destyds gesê die bevel is ʼn aanklag teen die Tshwane-metro oor die verwaarlosing van die mark.

Waarvoor gaan markkommissie?

ʼn Senior belanghebbende wat weens die voortgesette regsproses gevra het om nie geïdentifiseer te word nie, sê agente en boere is uiteraard ontevrede met die huidige omstandighede by die mark.

“Boere betaal ʼn gesamentlike 5%-markkommissie aan die stad om die mark se infrastruktuur op standaard te hou, maar die geld word nie herbelê om dit te doen nie.

“Die piesangrypmaakfasiliteite bly breek. Ons koelkamers raak voortdurend onklaar. Dit moet eenvoudig nie gebeur as geld nie ʼn probleem is nie.

“Ons wil weet waarvoor die Stad Tshwane die 5% gebruik. Ons het nodig dat die stadsraad met ons kommunikeer en dat geld in die mark herbelê word.

“Ons sê ook nie ons het die hele 5% nodig nie; ons verstaan dat die stad ook van die geld moet gebruik. Maar ons het minstens ʼn plan nodig waarin hulle wys hoe hulle in die mark gaan belê en die infrastruktuur in stand gaan hou.”

Imasa sê markte speel ʼn belangrike rol om bekostigbare toegang tot varsprodukte vir miljoene Suid-Afrikaners te verseker en dat plaaslike regerings hierdie rol moet erken.

Moeg vir die gesukkel

Terwyl die meeste mense nog rustig slaap, kom duisende handelaars, agente, kopers en ander rolspelers in die waardeketting daagliks douvoordag by varsproduktemarkte bymekaar om hul produkte verkoop.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Eddie Jackson is een van hulle. Jackson is ʼn seniorrypmaker wat al 29 jaar by die mark werk. Hy sê hulle is moedeloos oor die ondoeltreffende wyse waarop die mark bestuur word.

“Julle kom op die regte tyd; verlede week was die ligte nog af maar dié week brand dit darem weer,” sê hy met verwysing na die beligting in die gebou.

Volgens Jackson kan slegs 20 van die 55 rypmaakfasiliteite tans gebruik word.

“Dit kos ongeveer R100 000 om ʼn rypmaakkamer op standaard te kry, maar die fasiliteite word net nie herstel nie; die stadsraad maak jaarliks miljarde uit die mark, maar hulle kan nie vir my die geld gee om my werk behoorlik te doen nie.

“Ek probeer meestal om die fasiliteite self reg te maak, maar van die skade is te groot en die owerhede het nie ʼn saak nie.

“Dit maak net nie sin nie, maar ons almal weet seker waarheen die geld gaan.

“Ongeveer drie jaar gelede het al my fasiliteite nog gewerk; soms was ons só besig dat sommige van die vragte oornag buite moes wag. Nou staan 35 rypmaakkamers leeg.

Slegs 20 van die 55 rypmaakfasiliteite kan tans gebruik word (Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

“Die stadsraad is ook veronderstel om al die fasiliteite by die mark skoon en netjies te hou. Dit is hulle plig, maar die laaste ruk moes die agente seker maak dat die mark en die fasiliteite skoongemaak word.

“Daar is baie agente wat weg is. Ek is seker hulle wil terugkom, maar dinge hier werk net nie soos dit moet nie.”

Volgens Pieter du Preez, ʼn seniorkoelkamerbeampte, werk al die koelkamers tans soos hulle moet.

“Die uitdagings gebeur wanneer daar sabotasie by die substasies plaasvind – iets wat al hoe meer gebeur.

“Ons kragkabels is verlede maand gesteel waarna ons vyf dae lank sonder krag moes sit. Naastenby R5 miljoen se vrugte het in dié tyd gevrot.”

Du Preez sê die mark se doeltreffendheid het beslis oor die jare afgeneem.

“ʼn Tekort aan finansies beteken ons kan nie alles doen wat ons moet nie.”

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Deon Vermeulen, uitvoerende direkteur van Grow Noordvaal, ʼn varsprodukteagentskap, sê benewens die verswakte infrastruktuur is die regstreekse bedryf ook besig om die mark te knou.

“Van die kettingwinkels koop direk van die boere en ander weier bloot om hul pryse te wissel; dit veroorsaak dat die eindverbruiker hieronder ly omdat hulle ten duurste vir die produkte moet betaal.

“Die saadmaatskappye speel ook ʼn groot rol in die prys van ons produkte. Een tamatiesaadjie kos R4 en dit is geneties gemanipuleer, jy kan nie saad uit jou oes gebruik om weer te plant nie.”

Volgens Cor Christi, ʼn groente-agent verbonde aan die Tshwane-varsproduktemark, is dié mark ten spyte van sy agteruitgang steeds een van die belangrikste rolspelers in die land se voedselbedryf.

“Ons sal graag wil hê dat die mark onafhanklik moet word. Die toestande van die mark is nie op standaard nie en ons kry nie hulp van die stadsraad nie.”

Almal welkom

ʼn Tekort aan bereidwilligheid by die mark om moue op te rol is egter nie ʼn probleem nie.

“As die infrastruktuur uitmekaar val, sal ons boere planne maak. Ons sal nie toelaat dat die mark tot niet gaan nie,” sê Sven Grindstad, vrugteagent vir DW Varsproduktemarkagente.

“Ek dink mense het ʼn wanbegrip van die mark. Mense moet weet dat hulle self ook ʼn draai by die mark kan maak en nie noodwendig in grootmaat hoef te koop nie.

“Die ligte is aan, dit is veilig, en ons het sale vol produkte om van te kies.

“Dit sal vir mense veel beter wees om hul maandelikse varsprodukte hier te koop; sommige winkelgroepe is besig om die pryse onnodig op te stoot.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

“Enigiemand wat hier koop sal dadelik die waarde van die mark raaksien.”

  • Maroela Media het die burgemeesterskomiteelid verantwoordelik vir ekonomiese ontwikkeling en ruimtelike beplanning in die Tshwane-metroraad om kommentaar genader. ʼn Navraag oor die situasie by die mark is ook aan die metro se media-afdeling gerig. Hul kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.