Tsoenami-waarskuwing opgehef ná aardbewing naby Taiwan

ʼn Reddingswerker loop verby ʼn gebou in Yuli, Hualien in Taiwan wat in die aardbewing verwoes is (18 September 2022) (Foto: Sam Yeh/AFP)

ʼn Sterk aardbewing het Taiwan Sondag getref. Minstens een persoon is dood en ʼn handjievol geboue is verwoes. Die gevaar van ʼn tsoenami is egter opgehef.

Die aardbewing het 14:44 (0644 GMT) plaasgevind, ongeveer 50 km noord van Taitung op ʼn diepte van 10 km, het die Amerikaanse Geological Survey (USGS) gesê. Die aanvanklike sterkte is as 7,2 aangegee, maar die USGS het dit later na 6,9 afgradeer. Talle naskokke is aangeteken.

Japan se meteorologiese agentskap en die Stille Oseaan Tsoenami-waarskuwingsentrum het kort ná die aardbewing ʼn waarskuwing uitgereik, maar het later gesê daar is nie meer ʼn bedreiging van hoë golwe nie.

Taiwan se brandweer het gesê een persoon is dood toe ʼn masjien by ʼn sementfabriek in Yuli omgeval het. Minstens 79 mense het vir mediese behandeling aangeklop of is na hospitale gestuur.

Minstens drie geboue het in Yuli inmekaargesak, insluitend ʼn gebou waar ʼn 7-Eleven-winkel op die grondvloer geleë is.

Beeldmateriaal deur Taiwan se sentrale nuusagentskap wys hoe inwoners na die gebou hardloop waar ʼn groot stofwolk opgeskop is toe die gebou inmekaar gestort het.

Die Hualien-brandweer het gesê vier mense, wat in die gebou vasgekeer was, is gered. Twee ander geboue wat ook inmekaar gestort het, was leeg. Twee nabygeleë brûe is ook verwoes en twee ander is beskadig.

Taiwan se spoorwegagentskap sê ʼn trein het by Dongli-stasie in Hualien ontspoor. Die 20 passasiers aan boord is ontruim en geen beserings is aangemeld nie.

Taiwan se president, Tsai Ing-wen het mense gemaan om waaksaam te wees vir verdere naskokke. “Water- en elektrisiteittoevoer is in sommige gebiede geraak deur die aardbewing,” het sy op Facebook gesê. “Die rampbestuurnetwerk is in volle swang.”

ʼn Aardbewing van 6,6 het Saterdag dieselfde streek getref en daar was sedertdien verskeie naskokke.

Daar is tans min internasionale toeriste in Taiwan weens die eiland se verpligte Covid-19-kwarantyn vir meeste toeriste.

Taiwan beleef gereeld aardbewings. In 2018 is 17 mense dood en 300 beseer toe Hualien deur ʼn aardbewing van 6,4 getref is. In September 1999 is ongeveer 2 400 mense dood in ʼn aardbewing van 7,6.

https://twitter.com/NazimAl87794195/status/1571493772856524800

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.