Twee bendelede by kruising doodgeskiet

Omstanders en die swart Mercedes Benz op die toneel. (Foto: Twitter)

’n Kruising in Retreat, Kaapstad, is Donderdag tot stilstand gedwing toe twee vermeende bendelede daar doodgeskiet is.

Die twee vermeende bendelede was albei passasiers in ’n swart Mercedes‑Benz toe ʼn verdagte om 11:45 by die kruising van Peach-straat en Prince Georgeweg in Steenberg skote op onder meer dié motor afgevuur het.

Die Mercedes‑Benz is in een van die slagoffers se naam geregistreer, sê kol. Dawood Laing, stasiebevelvoerder van die polisie in die nabygeleë Grassy Park.

Omstanders en die swart Mercedes Benz op die toneel. (Foto: Twitter)

Vier ander wat saam met die bendelede in ’n konvooi gereis het, het ook tydens die skietery onder skoot gekom. Altesame vier skote het dié motor getref, maar nie een van die motor se vier insittendes is in die proses gewond nie.

Volgens Laing het die verdagtes in ’n silwer Chevrolet Aveo op die vlug geslaan. Dié voertuig is verlede maand in Lansdowne as gesteel aangemeld.

Twee sake van moord en vier sake van poging tot moord word ondersoek.

Die dossier is tans by die polisie se teenbende-eenheid. “Die motief is bendeverwant,” het Laing Vrydagoggend aan Maroela Media bevestig. “Die polisie volg leidrade op en glo optrede sal volg.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Piet Snot ·

Presies wat ek gedink het.
(my uitdrukking was egter in my moedertaal [smiley face])

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.