Twee gevonnis vir moord op jong vrywilliger

Ameerodien Noordien (Foto: Gift of the Givers)

Twee mans is Maandag elk tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op Ameerodien Noordien (19) in Mei 2018 in Hanoverpark in die Kaapse Skiereiland.

Noordien, ʼn vrywilliger by die liefdadigheidsorganisasie Gift of the Givers, is dood toe hy in die kruisvuur tussen twee bendes in Hanoverpark beland het. Drie ander persone is in die kruisvuur gewond.

Adrian Carelse (27) en Raiden Lekutu (22) is in die hooggeregshof in Kaapstad skuldig bevind op aanklagte van moord, poging tot moord en die onwettige besit van ’n vuurwapen.

Die beskuldigdes is elk tot effektief 25 jaar tronkstraf vir die aanklagte gevonnis.

Regter Monde Samela het gesê die impak van die tiener se dood weeg swaarder as hul persoonlike omstandighede wat hulle tot ’n lewe van misdaad gedryf het.

Maroela Media het vroeër berig Carelse en Lekutu is sowat vyf maande ná Noordien se moord in hegtenis geneem.

Lekutu, wat toe slegs 17 jaar oud was, is op Athburg Walk in Hanoverpark deur lede van die polisie se teenbende‑eenheid in hegtenis geneem. Carelse is paar dae voor Lekutu vasgetrek nadat hy geswig het voor die druk van beamptes wat warm op sy spoor was en hy het homself aan die polisie oorgegee.

Die Wes-Kaapse polisiebestuur het die vonnis verwelkom en die ondersoekbeampte, A.O. Elton Logenstein, vir sy goeie werk geloof.

Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers, het destyds gesê Noordien wou uit ʼn lewe van armoede wegbreek – “geen dwelmgebruik nie, geen bendebetrokkenheid nie, geen geweld nie, slegs eerlikheid, integriteit, harde werk en ʼn regmatige inkomste om vir sy familie te sorg,” het Sooliman gesê.

Ameerodien het net voor sy dood met Ali Sablay, projekbestuurder van Gift of the Givers in Kaapstad, in verbinding getree om daar betrokke te raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Tredoux ·

Moord is so oud soos die wêreld. Die een sy is geskok en die ander sy is gewillig. Geen verandering sal kom aan hierdie situasie onder die mensdom nie.

Christine ·

Maar moord in ons land is buite verhouding, al is dit so oud soos die berge.

Lillian ·

Tronkstraf is nie ‘n les vir die skuldiges nie, die tronk is ‘n tweede tuiste vir bendes

Andries ·

Ja nee wat hulle kom so na 10 jaar uit op parool dan is hulle steeds jonk genoeg om weer te kom moor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.