Twee polisiebeamptes kort ná mekaar doodgeskiet

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Frederic J Brown/AFP)

Die polisie in die Wes-Kaap is in rou gedompel ná die dood van twee beamptes in afsonderlike skietvoorvalle die afgelope naweek. Nie een van die beamptes was aan diens toe hulle in Khayelitsha doodgeskiet is nie.

Brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, sê ʼn 36-jarige sersant is Sondagaand in die eerste voorval doodgeskiet.

“Die sersant het in Solomon Tshuku-straat in Khayelitsha gery toe ʼn gewapende man om 17:30 sy voertuig genader en op hom losgebrand het,” sê Potelwa.

“Hy is na ʼn hospitaal geneem, maar is later dood verklaar.”

Die sersant was by die Elsiesrivier-polisiestasie werksaam ten tyde van sy dood.

Skaars ʼn halfuur daarna is nog ʼn sersant doodgeskiet.

“Die sersant is geskiet terwyl hy saam met vriende by Mandela Park gekuier het,” sê Potelwa.

Die skietery hou glo met ʼn gewapende rooftog verband en die aanvaller is steeds soek.

Die tweede sersant was verbonde aan die Nyanga-polisiestasie.

Genl.maj. Bongani Maqashalala, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, sê die bestuur van die polisie in die Wes-Kaap betreur die dood van die twee beamptes.

“Albei beamptes was in die fleur van hul lewe en het nog baie gehad om aan die gemeenskappe van die Wes-Kaap te bied,” sê hy.

“Die hele polisie hou die bedroefde geliefdes van die oorledenes in hul gedagtes en gebede.”

Twee sake van moord word ondersoek en geen inhegtenisnemings is al gedoen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Die sinnelose dood van die geregsdienaars asook plaasmoorde moet wereldwyd verkondig word in die media dat die buiteland kan sien wat hier by ons aangaan danksy die onbevoegde Anc regering.

Kokerboom ·

Dis tragies maar ek dink die wereld begin hul nou disassosieer met die “verloorstaat!”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.