Twee tieners gesoek vir moord van motoris

Argieffoto bloot ter illustrasie van ‘n misdaadtoneel. (Foto: Unsplash)

Die polisie in Tzaneen, Limpopo, is op die spoor van twee tieners wat na bewering ’n motoris doodgeskiet en ’n passasier verkrag het.

Volgens kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, is die polisie Vrydag omstreeks 13:00 na die toneel in die buitewyke van Tzaneen ontbied.

“Met die polisie se aankoms op die toneel het hulle op ’n 30-jarige vrou afgekom wat aan hulle vertel het dat sy en ’n 44-jarige man saam in ’n Suzuki Swift-sedan gereis het. Volgens die vrou het hulle op die R71-pad langs die Sasol-vulstasie twee jong mans ’n rygeleentheid aangebied,” sê Ledwaba.

“Tydens die rit het een van die jong mans die bestuurder (die 44-jarige man) beveel om stil te hou en die handrem op te trek. Die bestuurder het geweier en dit is toe dat een van die jong mans ’n vuurwapen uitruk en hom van agter doodskiet.”

Die jong mans het die vrou beveel om na die agtersitplek te skuif. Hulle het dorp toe gery waar hulle die bestuurder se liggaam op ’n grondpad gestort het. Hulle het aangery en die vrou in die bosse verkrag en daarna gevlug.

“Die mans het die vrou van kontant, bankkaarte en selfone beroof. Hulle het geld uit haar bankrekening onttrek.”

Die vrou het tot by die polisie se kantoor van voorsieningsketting in Tzaneen gestap waar sy die voorval aangemeld het.

Die voertuig is later uitgebrand in die Letsitele-polisiëringsgebied gevind.

“Die polisie ondersoek ’n saak van verkragting, kwaadwillige saakbeskadiging, gewapende roof en motorkaping.”

Mense met meer inligting wat tot die verdagtes se inhegtenisneming kan lei, kan ao. Phaladi Makola by 082 749 2233 of Stop Misdaad by 08600 10111 bel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Danie ·

Ek dink hulle het vergeet van die moord. Daar is geen saak van moord oopgemaak nie…

Madz ·

….die polisie ondersoek sekerlik nog ‘n geval van MOORD ook….?

Fontein Tannie ·

Miskien moet ons maar besef mens kannie meer rygeleenthede gee nie….

SANDRA ·

Is dit nie van selfsprekend nie? sjoe toe ek dit lees, toe lees ek klaar die gevaar, ek kom uit die 70/80’s toe kon jy nog ‘n kans vat. maar nou ja.

Bolandse Nooi ·

Mis ek iets, of sien ek nie ‘n klag van MOORD nie?????? Iemand is blatant doodgeskiet deur dié twee “tieners” (is julle seker dis tieners? Is hulle nie dalk al 27- of 28 en lyk maar net soos ‘tieners’ weens verstandelike agterstand nie?).

Hettie ·

Ek lees dat ‘n motoris doodgeskiet is. Die polisie ondersoek ‘n saak van verkragting, kwaadwillige saakbeskadiging, gewapende roof en motorkaping. Word moord nie meer ondersoek nie? Is moord nou ondergeskik aan eersgenoemde sake?

Niklaas ·

Dis seker goed bedoel, maar ek dink weer dis gekheid in hierdie jare om te stop langs die pad met jou voertuig , om rylopers op te laai. Iemand gaan teenspoed optel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.