Twee van SA in kwarantyn in China

Zweli Mkhize, minister van gesondheid, by Woensdagoggend se mediakonferensie. (Foto: Twitter)

Twee Suid-Afrikaners is tans in kwarantyn in die Chinese stad Tianjin nadat hulle van Wuhan, waar die meeste gevalle van en sterftes as gevolg van die gevreesde nuwe koronavirus aangemeld is, daarheen gereis het.

Die virus is nog nie by een van die twee gediagnoseer nie. Hulle is vir ʼn tydperk van 14 dae in kwarantyn.

Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Vrydagoggend weer die media toegespreek nadat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) die virus amptelik tot ʼn openbare gesondheidsnoodtoestand van internasionale belang verklaar het.

Mkhize het dié besluit verwelkom. “Dit stel ʼn raamwerk daar om te verseker dat daar gesamentlike multinasionale samewerking is om die verspreiding van die koronavirus hok te slaan,” het hy gesê.

Die minister het weer eens bevestig dat daar in dié stadium geen gevalle van die virus in Suid-Afrika aangemeld is nie. Die land is wel op die hoogs moontlike gereedheidsgrondslag geplaas sou die virus kop uitsteek.

Volgens Mkhize het die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) intussen vasgestel dat daar tans 165 Suid-Afrikaanse studente en 54 onderwysers in Wuhan woon waar daar tans ’n verpligte kwarantyntydperk van 14 dae geld.

Sowat 3 000 Suid-Afrikaanse studente woon tans in China, sê Mkhize.

‘n Pasiënt word by Zhongnan-hospitaal behandel (24 Januarie 2020) (Foto: Xiong Qi/Xinhua via AP)

Suid-Afrika het in dié stadium geen reisverbod na China nie ten spyte daarvan dat talle ander internasionale lugdienste vlugte gestaak of verminder het.

Volgens die minister het daar nog niemand met die virus van China die land binnegekom nie en het Suid-Afrika dus nie die gronde om vlugte summier te staak nie. Hy het wel gesê dat sy departement alle vlugte na en van China monitor.

Maroela Media het vroeër berig internasionale reisigers, veral uit Asië, se temperatuur word tans gemeet wanneer hulle Suid-Afrika binnekom. Die passasiers van direkte vlugte van China word ook nou verplig om ’n vraelys te voltooi om moontlike kontak met die virus op te spoor.

Volgens Mkhize het altesaam 55 passasiers reeds die land met ’n relatiewe hoë liggaamstemperatuur binnegekom. Dié passasiers is dadelik na verpleegsters verwys en daar is vasgestel dat hul geen simptome van die virus toon nie. Simptome van die dodelike virus sluit koors en asemhalingsprobleme in.

Van die 55 passasiers was 14 van China, een van Thailand en 40 ander lande.

Die minister moes vanoggend weer joernaliste gerusstel omtrent toestande by die Tembisa-hospitaal digby Johannesburg nadat dié hospitaal saam met die Charlotte Maxeke- akademiese hospitaal in Johannesburg en die Steve Biko- akademiese hospitaal in Pretoria aangewys is om gevalle te behandel sou dit aangemeld word.

’n Dringende personeeltekort is onlangs veral by die Tembisa-hospitaal uitgewys. Tembisa was boonop die afgelope weke in die nuus nadat tien babas in dié hospitaal aan ’n bakteriële infeksie dood is.

‘n Dokter behandel ‘n pasiënt in isolasie in ‘n hospitaal in Wuhan. Foto:
(Chinatopix via AP)

Volgens Mkhize is dié hospitale van die min ingerig om pasiënte in isolasie te hou. “Die realiteit is dat daar fasiliteite wat gebou is vir isolasie vir gevalle van die aard. Tembisa is een van dié fasiliteite. Die hospitaal ’n spesifieke area het wat indien ’n pasiënt met die koronavirus inkom, dadelik afgesonder sal word. Die res van die hospitaal sal geen invloed op dié area hê nie.”

Die koronavirus het reeds 213 lewens geëis met meer as 9 600 bevestigde gevalle wat net in China aangemeld is.

Volgens die WGO is daar reeds 83 gevalle in 18 ander lande aangemeld. In slegs sewe van die gevalle het die persone nie na China gereis nie.

Die departement doen ’n beroep op Suid-Afrikaners in China om hulself by die Suid-Afrikaanse owerhede in dié land aan te meld sodat die departement van hulle bewus is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

ameli ·

Patete dit vat tyd v die virus.. nou sien hul geen kommer nie, nee kom ons ons kyk eers of iemand aansteek voor ons vlugte staak.

netMYopinie ·

Ek was al by Steve Biko hospitaal, daar is geweldige baie pasiente en bitter min staff in vergelyking. Waar gaan die staff vandaan kom om die isolasie afdeling te behartig?

Skim ·

Ander lande het hul landgenote vroegtydig in China gaan haal. Maar Suid-Afrika los ons mense net daar met geen hulp nie. Nou sit hul in kwarantyn vasgekeer. Blykbaar is daar min kos in die winkels want aflewerings is gestaak. Geen busse of ander openbare vervoer nie. Hul kon ook nie meer maskers in die hande kry nie.

Stefan ·

Ek weet nie daarom vra ek. Is ek reg met die volgende stelling: Mense wat China werk betaal min of geen belasting is SA nie. Omdat hulle nie hier bly nie dra hul ook nie by tot die Ekonomie nie. As dit so is, hoekom moet my belasting geld gebruik word om hulle terug te bring. Hulle maak mos sakke vol geld daar en kan self betaal om terug te kom.?

Leonie ·

O aarde nee. Tembisa hospitaal?? Daar gaan jy defnitief nie lewendig uitkom as jy die virus optel nie. Hulle kan nie eers normale pasiente uitsorteer nie, wat nog van ‘n virus. En daai plek is verby vuil. Ek gaan eerder dood by my eie huis….

Niel ·

daar is ‘n pasient met die virus in kwaratyn geplaas by Eugene Marais hospitaal volgens gerugte? kan iemand asb bevestig of dit wel so is?

Karin ·

Waar is ons Regering hoe het ons mede burgers oorsee nie gevra dat ons hul moet kom haal nie

KitsKletser ·

Geen grondige rede om vlugte te staak nie…. Net soos wat plaasmoorde geen rede tot kommer hoef te wees nie

Kallie Kraamkettie ·

Die Suid Afrikaanse regering se hulle is reg vir die Koronavirus.
Dit is nou dieselfde regering wat verlede jaar deur Polony op gevoeter is……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.