Twee vas ná mislukte transitoroof

Argieffoto. (Foto: Twitter via @MotopiSelekaJr)

Twee verdagtes is Woensdag aangekeer nadat ʼn Fidelity ADT-geldwa in Desember in Mosselbaai deur rowers aangeval is.

Die gepantserde voertuig is op 6 Desember deur ses mans by die Engen-motorhawe in Mosselbaai in die Wes-Kaap aangeval. Volgens Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, het die mans die sekerheidwag van sy vuurwapen beroof en toe probeer om toegang tot die voertuig se kluis te verkry.

“Die rowers was egter nie suksesvol nie en het kort daarna in ʼn wegkommotor gevlug. Die motor is later verlate gevind.”

Die polisie kon intussen een van die verdagtes identifiseer en Woensdag (4 Januarie) is lede van George se eenheid vir prioriteitsmisdaadondersoek saam met lede van die Tuinroete se blitspatrollie na Thembalethu, waar die verdagte glo weggekruip het.

Twee mans, 32 en 36 onderskeidelik, is in hegtenis geneem. Hulle sal na verwagting Vrydag in die landdroshof in Mosselbaai verskyn op aanklag van die roof van ʼn vuurwapen en ʼn gepoogde transitoroof. Volgens Hani sal nog verdagtes waarskynlik binnekort aangekeer word.

Intussen is die polisie in Noordwes warm op die spoor van ʼn groep verdagtes nadat nóg ʼn Fidelity-geldwa Donderdagoggend op die N12 tussen Wolmaransstad en Klerksdorp beroof is. “Die groep verdagtes het in vier voertuie gery en in die transitovoertuig vasgery, wat veroorsaak het dat dit tot stilstand gekom het. Die geldwa is gebombardeer en die verdagtes het met ʼn onbekende bedrag geld op die vlug geslaan,” het brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder van Noordwes, gesê.

Die verdagtes het ook twee vuurwapens, wat aan sekuriteitswagte van Fidelity behoort, gebuit. Die vuurwapens is egter later teruggevind.

Die N12 is intussen weer oopgestel vir verkeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hasie ·

Uiteindelik gebeur daar iets in die polisiemag … Hoop die skuldiges word toegesluit en nie beloon nie

TheSnake ·

En ons tronke is oorvol terwyl die eerlike belastingbetalers die kriminele moet voed en aan die lewe hou. Iewers is daar fout met ons regsstelsel.

Danie ·

Bedoel hulle vas die twee gaan aanvoer dat hulle net daar naby was en toe deur polisie gevang is.Geen bewyse en getuienis en siedaar ons loop weer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.