Twee vas ná Strand-vrou se skietdood

(Argieffoto: SA Polisie)

Twee mense is reeds agter tralies in verband met die skietdood van ʼn vrou voor ʼn munisipale kantoor in die Strand. Die verdagtes, onderskeidelik 26 en 46 jaar oud, is Dinsdag in hegtenis geneem nadat die 41-jarige vrou ʼn dag tevore in die parkeerterrein van die kantoor doodgeskiet is.

Maroela Media het vroeër berig die slagoffer – wat ten tyde van die voorval alleen in die voertuig was – het skaars met haar silwerkleurige Toyota Fortuner by die parkeerterrein langs Hoofweg stilgehou, toe verskeie skote op haar afgevuur is.

Sy is etlike keer getref en mediese personeel het haar op die toneel dood verklaar. Die verdagte het weggestap, in ʼn wegkomvoertuig, ʼn wit Opel Astra, geklim en van die toneel gevlug.

Kapt. FC van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê verskeie verklarings van ooggetuies is verkry en die wegkomvoertuig is geïdentifiseer.

“Die voertuig is later by ʼn perseel in Site C by Khayelitsha opgespoor, waar die polisie daarop beslag gelê en as ʼn bewysstuk by Stikland ingedien het.”

Foto: Verskaf)

Van Wyk sê die vrou het tydens haar dood vir die Stad Kaapstad se gesondheidsdepartement gewerk.

“Haar man is in Oktober verlede jaar in Qumbu in die Oos-Kaap doodgeskiet.”

Die polisie het geen verdere besonderhede hieroor bekend gemaak nie.

Van Wyk sê albei verdagtes sal na verwagting Woensdag in die Strand-landdroshof op aanklag van moord verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.