Uiteindelik! ʼn Nuwe (Afrikaanse) hoërskool vir Darling

Foto slegs ter illustrasie. (Argieffoto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Ná ʼn jare lange gewag het bouwerk aan ʼn nuwe Afrikaanse hoërskool in Darling in die Wes-Kaap uiteindelik begin.

Volgens die Swartland-munisipaliteit het dit amper ʼn dekade lank geneem om te onderhandel vir ʼn nuwe skool.

Darling het tans glad nie ʼn hoërskool nie en leerders moet ver reis om in Atlantis, Malmesbury en Moorreesburg skool te gaan.

“Dit lei tot aansienlike logistieke en veiligheidskwessies,” sê Mart-Marié Haasbroek, woordvoerder van die Swartland-munisipaliteit.

Die Wes-Kaapse provinsiale tesourie het in 2018 aanvanklik R70 miljoen aan die projek toegewys, met bouwerk wat veronderstel was om op 1 April 2021 te begin.

Verskeie faktore het egter die bouwerk herhaaldelik vertraag, wat die munisipaliteit en sy raadslede genoop het om self in te gryp. Volgens Haasbroek is daar vergaderings met die Wes-Kaapse departement van onderwys, asook die provinsiale ministers, departementshoofde en die direkteur-generaal belê om die wiele weer aan die rol te kry.

Ná die politieke ingryping van onder andere Michael Rangasamy, speaker van die Swartland-raad, is die finale bouplanne vir die skool in September 2023 ingedien.

Kort hierna het die projek egter nog een finale terugslag gehad, ná die nasionale begrotings vir nuwe projekte besnoei is.

Daar kon wel ooreengekom word dat die eerste fase van die nuwe skool vanjaar kan begin met die bou van tien klaskamers.

Volgens Haasbroek sal die skool volgende jaar in gebruik geneem kan word.

“Die hoërskool is gereed om in 2025 sy deure vir graad 8- en 9-leerders oop te maak, wat nuwe moontlikhede en ʼn belowende toekoms vir Laerskool Darling se leerders en hul ouers bied,” sê Haasbroek.

“Ons is ongelooflik bly en verlig oor hierdie nuwe hoërskool. Dit sal hernieude hoop bring aan ons Darling-inwoners wat nie meer hul kinders na buurskole sal hoef te stuur nie,” sê Harold Cleophas, Swartland se burgemeester.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Karoo ·

Ek wonder of hulle ons ou koshuis ook gaan vergroot. Van hier moes jy of Veldrif, Vredenburg of elders gaan.

Goldy ·

Gebruik eerder daardie geld om n privaatskool te bou, julle gaan dit inelkgeval verloor soos die regering dit gaan aftakel.

Laksman ·

Die klas goed moet stil gehou word……môre stop die busse weer voor die skool.

Di ·

Sien binnekort weer chaos wanneer die “ANC Regering” weer die skool se beheer gaan oorneem. ANC Kaders wil beheer he oor ALLES en ALMAL in die land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.