Uitroei van uitheemse plante spaar 16,1 miljard liter water per jaar

Spanne roei indringerplante uit op die berge in die Hottentots Holland-natuurreservaat (Foto: Roshni Lodhia)

Die verwydering van uitheemse, watergulsige plante is ʼn belangrike deel van Kaapstad se waterstrategie en langtermyn Nuwe Water-program. Dié program het ten doel om teen 2026 altesaam 55 miljard liter per jaar by te voeg tot die waternetwerk.

“Hierdie noodsaaklike en kostedoeltreffende optrede vestig veerkragtige opvanggebiede wat in die toekoms water aan Kaapstad sal lewer,” sê Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid oor water en sanitasie. “Dit bied ook beduidende maatskaplike, ekonomiese en omgewingsvoordele deur werk te skep en inheemse waterwyse fynbos toe te laat om binne hierdie opvanggebiede te floreer.”

Die Groter Kaapstad-waterfonds (GCTWF) beraam dat sowat 55 miljard liter water – genoeg water vir Kaapstad vir ongeveer twee maande – elke jaar verlore gaan weens uitheemse plante soos dennebome, bloekombome en akasiabome in die sewe prioriteit-sub-opvanggebiede wat water aan die grootste damme in Kaapstad verskaf.

Die stadsraad het in 2021 ʼn bedrag van R50 miljoen aan GCTWF toegeken om uitheemse indringerplante uit te roei. Verskeie ander belanghebbendes het hulself ook verbind tot die GCTWF, waaronder Cape Nature, die Suid-Afrikaanse Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) en Working on Fire High Altitude-spanne (WoF-HAT) sedert sy ontstaan in 2019.

“Deur die span se belegging en pogings, is 16,1 miljard liter water reeds aangevul – die ekwivalent van 44 miljoen liter water per dag, toe 30 972 hektaar aanvanklik en ʼn verdere 18 740 hektaar van uitheemse plantsoorte uitgeroei is. Die GCWTF het boonop 787 groen poste geskep en neem 151 gespesialiseerde tegnici in diens in die berg-opvanggebied.”

Tou-tegnici verwyder indringerplante op die berge in die Jonkershoek-natuurreservaat (Foto: Roshni Lodhia)

Badroodien sê Kaapstad werk ook saam met die Nature Conservancy (TNC) om uitheemse plante in vier opvanggebiede uit te roei: Wemmershoek, Steenbras, Bergrivier en die Atlantis-akwifer-kerngebied. Hulle vier saam die herstel van 3 472 hektaar in die eerste ses maande van die finansiële jaar van 2023/2024.

“Ons spanne het uitstekende werk gedoen in die eerste ses maande van die finansiële jaar. Hierdie kostedoeltreffende en volhoubare natuurgebaseerde benadering stel ons in staat om ons pogings voort te sit om die stad se watervoorraad te verseker en te voldoen aan die toekomstige aanvraag. Die terrein waar dié spanne werk is baie moeilik en ons waardeer hul toewyding.”

Badroodien sê die uitroei van uitheemse indringerplante is een inisiatief van die Nuwe Water-program wat die stadsraad ondersteun om kapasiteit te verhoog met ʼn bykomende 300 miljoen liter water per dag deur alternatiewe metodes soos ontsouting, grondwater-onttrekking, bestuurde akwifer-herlading en herbruik van drinkbare water.

Die stadsraad het vir die finansiële jaar van 2023/2024 ʼn bedrag van R25 miljoen toegeken om voort te gaan met die uitroei van indringerplante in die vier opvanggebiede.

Zahid Badroodien besoek die Steenbrasdam om die vordering te monitor (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Martie ·

Maar die stad Kaapstad vergeet om te se dat as jy die sogenaamde uitheemse bome uitroei die bevolking wat in plakkerskampe sit die inheemse bome gebruik om vuur te maak. Aan die einde van die dag sit ons met boomlose vlaktes en die wind wat alles in sy peetjie waai.

Miskruier ·

Die Waterberge word ingeneem deur Lantana. Die voëls vreet die bessies en dra dit wyd en syd.

Althes ·

Bloekombome is net sulke dorstige bome het ek gelees. 80 liter water per dag. Dis mos uitheemse bome, waarom word hul nie ook verwyder nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.