Uitspraak voorbehou in saak tussen Manuel en EFF

Trevor Manuel. Foto: Karen Sandison/ANA

Uitspraak is Dinsdag voorbehou in Trevor Manuel, voormalige minister van finansies, se lastersaak teen die EFF.

Manuel het die hooggeregshof in Johannesburg genader nadat die EFF hom beskuldig het van konflik van belange met betrekking tot die aanstelling van die nuwe taksbaas, Edward Kieswetter.

Die EFF het in Maart ʼn verklaring uitgereik waarin die party Manuel van nepotisme en korrupsie in die aanstelling van Kieswetter beskuldig het. Manuel het aan die hoof gestaan van die paneel wat onderhoude gevoer het met die kandidate vir die pos.

Manuel eis dat die EFF sy uitlatings terugtrek, om verskoning vra en skadevergoeding van R500 000 betaal.

Adv. Carol Steinberg, Manuel se regsverteenwoordiger, het Dinsdag aangevoer die EFF het Manuel se reputasie skade berokken met hul uitlatings.

Volgens Steinberg sal Manuel die geld aan ʼn verdienstelike organisasie skenk. Sy het in die hof aangevoer dat die EFF sy uitlatings grond op ʼn “vertroulike bron” wat vir die party ʼn SMS gestuur het en aanvoer Kieswetter is familie van Manuel.

Adv. Vuyani Ngalwana, namens die EFF, het die hof versoek om die saak van die rol te skrap aangesien dit nie dringend is nie.

“Dit was nie die EFF se bedoeling om Manuel se reputasie te skaad nie,” het hy gesê en ook gevra waar kan dit bewys word dat dit wel die geval was.

Regter Elias Matojane het uitspraak voorbehou.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

fred ·

lyk vir my die EFF het die verkeerde persoon aangevat en krabbel nou terug…..sal hulle leer om hulle groot monde toe te hou….slaan terug Manuel

Antoinette ·

Ek hoop Manuel slaag. Malema sit sy voet net te veel in sy mond.

Johan ·

Die vraag is of die Rooi Plaag weereens gaan wegkom met hulle onvanpaste uitlatings.

Mariana ·

Snaaks dat die EFF altyd uitlatings maak en as hulle vasgevat word dan het hulle nie bedoel wat hulle gesê het nie. Ek hoop dat hulle nou sal aanspreeklik gehou sal word oor hulle uitlatings. Hulle kom al te lank web daarmee.

Erika ·

Ja, die EFF kan net sê en doen wat hulle wil, want hulle kom weg daarmee.
As hulle nie van iets hou nie dan veroorsaak hulle skade of hulle speel onskuldig.
Roer hulle asb Trevor!

Thinus ·

Hoekom word die EFF deur die getransformeerde regstelsel beskerm. Dubbele standaarde?

Adam ·

Dit is goed dat Mnr Manuel die EFF aanvat. Die uitlatings is egter in Maart 2019 gemaak en indien SA se howe bereid is om hierdie tipe van aangeleentheid op ‘n dringende basis aan te hoor sal dit ‘n kwade dag vir regspleging wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.