Die South African Parastatal and Institutions Union (Saptu) gaan die minister van hoër onderwys en opleiding vra om in te gryp weens die astronomiese salarisse wat sommige vise-kanseliers aan Suid-Afrikaanse universiteite verdien.
Sunday Times het Sondag berig dat prof. Mandla Makhanya, Unisa se vise-kanselier, en prof. Tshilidzi Marwala, vise-kanselier van die Universiteit van Johannesburg, na bewering salarisse van R5,2 miljoen en R4,9 miljoen onderskeidelik verlede jaar verdien het. Ongeveer R1,1 miljoen hiervan was prestasiebonusse. Volgens die berig het prof. Xoliswa Mtose, vise-kanselier van die Universiteit van Zululand, na bewering verlede jaar ʼn salaris van R4,5 miljoen verdien.
Unisa is gedurig onder skoot weens eksamenuitslae wat vertraag word. Studente hier betoog boonop voor amper elke eksamen omdat hulle nie betyds NSFAS-subsidies ontvang om kos en boeke te koop nie. Die Universiteit van Zoeloeland was ook onlangs in die nuus omdat hulle glo grade hier “verkoop” het.
“Oormatige prestasiebonusse is die grootste onreg wat jy werknemers en akademici aan ʼn universiteit kan aandoen,” sê adv. Ben van der Walt, algemene sekretaris van Saptu. “Hierdie mense is verantwoordelik vir die sukses van studente en lewer navorsing, maar ontvang geen bonusse vir hul moeite nie.”
Saptu sal nou die minster van hoër onderwys en opleiding vra om in te tree en te verseker dat die salarisse van vise-kanseliers gereguleer word. “By dié universiteite waar Saptu verteenwoordig word, sal ons ook die saak met die universiteitsbestuur opneem en dan besluit op die regte stappe,” sê Van der Walt.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
10 Kommentare
Hier is darem maar mense wat buitensporige vergoedings kry, ten spyte van wat hulle werklik lewer. As UNISA nou onder die top 100 universiteite in die wêreld gereken is, of as die instellings elke jaar met 50 of so plekke opskuif weens hulle akademiese prestasies was dit nou een ding, maar elke jaar val die plaaslike universiteite net verder en verder in die wêreld ranglyste ween die gebrek aan navorsing, swak dosente en twak wat hulle publiseer maar die manne bo kry “prestasie bonusse”. Nee regtig, dit is belaglik.
Dit is die Universiteit van Zoeloeland, nie die Universiteit van Zululand nie. Kry asb. jul Afrikaans reg, MM.
Almal ry mos maar deesdae die soustrein. Kyk maar net hoe lyk die salarisse van werknemers by die spul bankrot munisipaliteite.
Van die gewone dosente ontvang werklik hongerlone, al het hulle PhDs.
Hierdie instansies was puik en nou word al die poste gevul met patetiese individue wat net hulle sakke volprop.