Unisa se registrateur afgedank

Prof Steward Mothata (Foto: Unisa/Twitter)

Die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) het sy registrateur, prof. Steward Mothata, se kontrak met onmiddellike inwerkingtreding beëindig.

Mothata is verlede maand voorlopig geskors rakende bewerings van wangedrag wat betref “growwe misbruik van sy kantoor, growwe oneerlikheid en diensweiering”. Hy is ook daarvan beskuldig dat hy valse uitlatings gemaak het tydens sy ampstermyn.

“In die hantering van hierdie aangeleentheid hou die universiteit by sy blywende beginsel en praktyk om nie in die openbare domein kommentaar te lewer oor sake tussen homself en sy werknemers nie. Indien daar enige verdere aangeleentheid is wat Unisa aan sy voormalige werknemer, prof. Mothata, wil kommunikeer, sal dit sodanige kommunikasie aan hom rig,” het die universiteit in ʼn kort verklaring gesê.

Dit blyk egter dat Mothata nie sommer gaan handdoek ingooi nie. Volgens IOL het Mothata reeds ʼn aansoek by die arbeidshof ingedien om sy afdanking teen te staan. Hy het prof. Puleng LenkaBula daarvan beskuldig dat sy sy kontrak onregmatig beëindig het.

Volgens ander mediaberigte is Mothata se afdanking die gevolg van ʼn magstryd by die universiteit.

Een van die bevindinge in ʼn verdoemende verslag deur prof. Themba Mosia, viserektor van die Universiteit van Pretoria, wat as onafhanklike assessor aangestel is om probleme by Unisa te ondersoek, was oor die verhouding tussen LenkaBula en Mothata.

“Dit het vir my duidelik geword dat die verhouding onherstelbaar geword het; dit het die werk van die universiteit ernstig beïnvloed,” het Mosia bevind.

Volgens berigte is Mothata die derde senior Unisa-hoë om afgedank te word. Twee van Unisa se raadslede het ook bedank nadat Mosia se verslag bekend gemaak is.

In die verslag word verskeie bewerings van wangedrag, ʼn toksiese kultuur by Unisa en korrupsie blootgelê. Die verslag onthul onder meer dat duisende rand bestee is aan opknappings aan die visekanselier se ampswoning. Buitensporige bedrae geld is byvoorbeeld aan gordyne spandeer (R285 000) en R8 000 is betaal om iemand te leer om ʼn stofsuier te gebruik.

Mosia het ook bevind dat daar ernstig fout is met Unisa se bedryfsprosesse en die hantering van studente en personeel. Gevalle van wanbestuur, finansiële ongerymdhede, swak studentedienste, akademiese wanpraktyke, onthulling van vertroulike rekords en twyfelagtige bestuur en raadsbesluite is ook geopper.

Die DA het Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, vroeër versoek om Unisa onder administrasie te plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.