Unisa-uitspraak ‘gaan nie Afrikaans red’  

Die Unisa-kampus in Pretoria. (Foto: Gauteng-toerisme)

Hoewel die Konstitusionele Hof bevind het dat Unisa Afrikaans as onderrigtaal moet behou, meen verskeie kenners dat die uitspraak egter weinig hoop vir die toekoms van die taal by dié universiteit skep.

Dít word onder meer toegeskryf aan die universiteit se personeelbeleid, wat dit haas onmoontlik maak om Afrikaanssprekende studente te akkommodeer.

Dit is wel positief vir die bevordering van Afrikaanse onderwys en moedertaalonderrig in die algemeen.

“Ek glo nie Unisa beskik meer oor die operasionele vermoë om [onderrig in] Afrikaans weer in die lewe te roep nie,” sê Marthinus Visser, besturende direkteur van die Afrikaanse hoëronderwysinstelling, Akademia. “Wanneer jy na transformasieaanstellings by die universiteit gaan kyk, is baie personeellede nie Afrikaans magtig nie.

“As jy net dít in gedagte hou, is dit onwaarskynlik dat die universiteit Afrikaans weer sal kan instel.”

Visser meen Unisa beskik waarskynlik ook nie oor die finansiële hulpbronne om Afrikaans weer in te faseer nie.

Kerneels Lourens, prokureur en taalaktivis, stem saam en sê dat hoewel die saak gewen is, Afrikaans nié gewen het nie.

“Dis natuurlik ʼn positiewe uitkoms, maar dit gaan Afrikaans by Unisa glad nie help nie. Dit is van kritieke belang dat personeel en leermateriaal beskikbaar moet wees om Afrikaanse studente te bedien, wat nie hier die geval is nie.”

Lourens sê wat Afrikaans by Unisa betref is die taal in dié stadium by die begrafnisondernemer – die teraardebestelling moet nog net plaasvind.

“Die uitspraak dien wel as ʼn waarskuwing aan Unisa se bestuur dat hulle hul statuut moet nakom en prosedures behoorlik moet volg.”

Lourens sê Afrikaanssprekendes wat in hul moedertaal wil studeer, moet egter nie mismoedig raak nie en hul reg opneem om met behulp van staatsubsidies by private instellings te studeer.

“Die Grondwet maak voorsiening dat staatsubsidies ingevorder kan word. Voornemende studente moet dié reg toeëien om by private instellings wat afstandonderrig in Afrikaans bied, te gaan studeer.”

Uitspraak bevoordeel wel Afrikaans

Wat die breër prentjie betref, is kenners dit eens dat die uitspraak wel op verskeie terreine voordele vir die taal en sy sprekers inhou.

“Net die feit dat die uitspraak volledig in Afrikaans en Engels gelewer is, is reeds baie positief. Dis wonderlik vir Afrikaans as regstaal,” sê Lourens.

Volgens Visser stuur die uitspraak ook ʼn positiewe boodskap uit dat daar erkenning gegee moet word aan die groot Afrikaanse gemeenskap.

Adv. Albert Lamey, beheerliggaamlid by die Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria en kampvegter vir Afrikaans, sê die uitspraak bevat ook positiewe boodskappe oor die belang van Afrikaans.

“Dis duidelik dat ander tale nie ten koste van Afrikaans bevorder hoef te word nie.”

Hoewel elke saak sy eie stel feite het wat deur ʼn hof beoordeel word, meen Lamey dat ander universiteite in die land ook deeglik kennis van dié uitspraak moet neem.

“Dit wys dat jy Afrikaans nie sonder baie goeie regverdiging kan verwyder nie.”

Dr. Annelise de Vries, sosiolinguis verbonde aan Akademia, meen die uitspraak is ʼn reuseoorwinning vir regspraak met betrekking tot meertaligheid in die land.

“Dit dui daarop dat meertaligheid ʼn bate is. Dit beteken ook dat ander inheemse en amptelike tale meer ruimte het om as taal van onderrig-en-leer tot op die hoogste vlak geïmplementeer kan word.”

Ook die Afrikanerbond het met “besonderse vreugde” van die uitspraak kennis geneem.

“Die Grondwet bevat bepaalde taalreëlings wat tot dusver nie na behore nagekom is nie. Die neiging tot dusver was om ʼn meertalige Suid-Afrika te verander na ʼn Engels-eentalige Suid-Afrika. Dit gaan nie om ʼn stryd tussen tale nie, maar om die behoud en die uitbouing van tale, waaronder Afrikaans,” sê Jan Bosman, hoofsekretaris van dié organisasie in ʼn verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Groen Ghoen

Hierna sal die hoogsbetaalde ANC-kaders by UNISA sekerlik Stellenbosch-jakkalsdraaie in English begin gooi. Die arme UNISA, tot in die afgrond in getransformeer tot ‘n strompelende geraamte van wat dit eens was.

Anthony

Ons mnoet net alweer ons eie bou, kyk hoe mooi is Soltek hier in Centurion, pragtig, trots Afrikaans, gebou binne n jaar

Jaco

Dis net sekere, meestal wit, Afrikaanssprekendes wat kla oor verengelsing. Ek sien en hoor nooit Afrikaanssprekende kleurlinge kla nie. Swart sprekers van Xhosa, Zulu, Sesotho, Setswana ens kla ook nooit nie. Nou wonder ek maar net: waar was daardie groepie wat so kla oor verengelsing dan op skool? Hoe het hulle dan nie Engels gelee nie?
Ek was in die ou SA op skool, onder apartheid en met ‘n sterk Afrikaanssprekende regering. Engels was ‘n VERPLIGTE vak op skool, tot op matriekvlak. As ‘n leerder Engels gedruip het, maar al die ander vakke geslaag het, moes hy/sy die hele jaar herhaal.

Swerwer

Wel terwyl die ANC aan bewind is, vergeet dit om ons taal te red.

Jasper

N onafhanklike tuisstaat is al wat ons taal ,kultuur en geskiedenis kan red maar ongelukkig het ons nie ‘n Afrikaanse leier wat die moed het van Steve Hofmeyr om die proses te druk nie.