Unisa verlig na hof stokkie steek voor administrasie

Die Unisa-kampus in Pretoria. (Foto: Gauteng-toerisme)

Die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) verwelkom die hofbevel wat dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, verbied om die universiteit onder administrasie te plaas.

Die Pretoriase hooggeregshof het Vrydag dié interdik teen Nzimande toegestaan.

Nzimande het Unisa Donderdag weer in kennis gestel van sy voorneme om die instelling onder administrasie te plaas. Hy sou vandag sy finale besluit in dié verband bekend gemaak het.

Volgens die hof se uitspraak is Nzimande se kennisgewing ook strydig met ’n vorige hofuitspraak wat op 24 Augustus deur dieselfde hof gelewer is. Na aanleiding van dié uitspraak mag daar nie ’n besluit rakende die administrasie van die universiteit geneem word nie.

Maroela Media het vroeër berig Nzimande se voorneme om Unisa onder administrasie te plaas volg op die verslae van ʼn onafhanklike assessor en die ministeriële taakspan oor Unisa. Volgens die minister is hy tevrede dat die onafhanklike assessor se verslag finansiële en andersoortige wanadministrasie van ʼn ernstige aard en ernstige ondermyning van die doeltreffende funksionering van Unisa aan die lig gebring het.

Die verslag voer aan dat die aanstelling van ʼn administrateur in die beste belang van Unisa en van hoër onderwys in ʼn oop en demokratiese samelewing is.

Volgens Tommy Huma, woordvoerder van Unisa, het die instelling nog altyd volgehou dat die verslag van die onafhanklike assessor gebrekkig is, en sy aanbevelings totaal misplaas is.

“Om dié rede het die universiteit die verslag op hersiening geneem om dit tersyde te laat stel. Totdat die universiteit se kant behoorlik aangehoor is, meen die universiteit dat dit voortydig is vir die minister om die aanbevelings van die onafhanklike assessor te implementeer. Unisa glo ook dat administrasie nie nodig is nie en slegs kan dien om die universiteit te benadeel,” sê Huma.

Unisa wil die publiek verseker dat die akademiese program van die universiteit normaalweg voortgaan en die instelling nie finansiële probleme het nie.

In Mei vanjaar het die Raad op Hoër Onderwys (RHO) sy institusionele ouditverslag uitgereik wat bevestig dat Unisa se akademiese program en gehalteversekeringstelsels grootliks normaalweg voortgaan en volgens norme en standaarde van die sektor beheer word.

“Ons hoop dat ons studente die geleentheid gegun sal word om te fokus op hul eindeksamen wat tans aan die gang is, sonder enige vorm van angs of steurnis. Verder sien ons daarna uit om al ons nuwe studente in die nuwe akademiese jaar in 2024 te verwelkom en waardeer hul keuse om aan Unisa te studeer.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johann ·

Toonbeeld van verval en verwoes van wat eens funksioneel was. ANC LEGACY!

Bolandse Nooi ·

Hulle wil UNISA ook seker laat omdrai in ‘n kommunistiese staat en dit sentraliseer. Kyk, die ANC hou net mooi NIKS van enige iets wat in ‘n funksionele en professionele toestand is nie. Dit gaan reëlreg teen hul …eh… begrip van ‘n normale bestaan in.

Kaptein ·

Hy is nou nie die skerpste potlood nie en sy blade se niemand nie. Seker weer iemand van iemand van iemand se familie wat ind ondersoek span was . Go and suck a doorknob

Hannelie ·

Mmmmmm Blade Nzimande is definitief in die ANC. Sal mos altyd hul kaders red!!!

TO ·

Ek vir unisa gewerk.. Een van die voorstaande instellings maar sit net die cronies vd regering aan bewind en sien hoe enige plek in ‘n oogwink om die grond in bedryf kan word. Wat ‘n skande

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.