Universiteite: Eerstejaars begin dan

Dr. Blade Nzimande. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Aangesien die matriekuitsale na verwagting eers op 23 Februarie bekend gemaak word, sal die akademiese jaar vir eerstejaarstudente by universiteite tussen 8 Maart en 12 April begin.

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, het Woensdag tydens ʼn mediakonferensie gesê tien universiteite is van plan om die 2020-akademiese jaar vanjaar nog te voltooi terwyl vier universiteite aangedui het dat hulle teen einde Januarie 2021 die akademiese jaar sal voltooi. Sewe universiteite hoop om in Februarie klaar te wees en vyf universiteite verwag om eers in Maart die akademiese jaar te voltooi.

Universiteite kan nou op vlak 1 al hul studente terug verwelkom, insluitend internasionale studente wat tans nie in die land is nie. Dié studente sal egter moet voldoen aan die vlak 1-regulasies, naamlik bewys van ʼn negatiewe Covid-19-toets wat nie ouer as 72 uur is nie by hul aankoms in Suid-Afrika. Indien daar nie so toets is nie sal die student vir minstens tien dae op eie koste in kwarantyn moet gaan.

“Alle universiteite implementeer tans hul planne om alle studente en personeel van 1 Oktober terug te ontvang, onderhewig aan enige beperkings wat verband hou met hul eie risikobeoordeling gegewe hul spesifieke konteks en omstandighede.”

Nzimande het benadruk dat die regulasies ingevolge vlak 1 toegepas moet word, insluitend sosiale distansiëring, die dra van maskers, hande was en sanitasie.

Volgens die jongste data is daar 1 979 Covid-19-gevalle by universiteit aangemeld, waarvan 1 215 by personeel en 764 by studente. Teen 22 September is 89 lede van die hoëronderwysgemeenskap aan Covid-19 dood – 53 van universiteite en 36 van TVET-kolleges.

Meer as 245 000 studente het permitte gekry om kampusse te betree vir onderrig- , leer- en navorsingsdoeleindes. Sommige instellings was steeds besig om die eerste 66% van studente in fases te laat terugkeer toe die aankondiging vir die skuif na vlak 1 gedoen is.

Teen 22 September was daar reeds meer as 54 000 studente in koshuise wat deur universiteite besit word. Dit is ongeveer 48% van die koshuise se kapasiteit.

“Daarbenewens het instellings gerapporteer dat daar nog 49 360 studente is wat in akkommodasiegeriewe woon wat deur universiteite gehuur en bestuur word, 21 022 studente wat in universiteitsgeakkrediteerde private akkommodasie woon, en 34 594 studente wat in ander vorme van private akkommodasie woon.”

Sommige instellings het aangedui dat nie alle studente gehoor gee aan oproepe om na kampusse terug te keer nie, en verkies om eers nog van die huis of elders af te werk.

“Hoewel ons dit verstaan en aanvaar, gegewe die vrees wat ouers en studente nog het, wil ons ouers en studente aanmoedig om te verseker dat onderrig en leer nie in die gedrang kom nie, aangesien ons nie ʼn laer slaagsyfer in hierdie akademiese jaar wil sien nie, tot die mate dat ons dit kan vermag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Antoinette ·

Wat van Mediese, Tandheelkunde en Veeartsenystudente. Hulle hewige skedules sal hulle nie toelaat om so laat te begin nie.

Johann ·

Lekker man. So MANAGE jy in RSA die toepassing van AFRIKA TYD EN DRINGENDHEID. Brand om te weet watter Universiteite watter “mik” datums het vir klaar maak?

annie ·

Miskien moet ons nou maar die jaar saam met die VSA eers in Augustus ’21 begin dan sinkroniseer ons. Hereksamens kan in die oop tyd tussenin afgelè word en onderwysers kan goed uitrus na die uitputtende lang rus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.