UPL kap terug oor chemiese storting by aanleg

Talle visvrektes is ná die brand in Cornubia aangemeld. (Foto: Ben Carnie/Facebook)

United Phosphorus Limited (UPL) sê hy is “teleurgesteld” nadat Barbara Creecy, die minister van bosbou, visserye en omgewingsake, dié departement se voorlopige bevindinge rakende UPL se aanleg in KwaZulu-Natal vrygestel het sonder om dié verdoemende bevindinge vooraf met die maatskappy te bespreek.

Daar word onder meer in die departement se verslag bevind dat UPL geen omgewingspermitte gehad het om sake in die gebied te doen toe sy aanleg in Cornubia tydens die sogenaamde Zuma-onluste aan die brand gesteek is nie.

Die maatskappy sê hy ontken dit dat hy nié aan wetgewing voldoen het nie en hy het die verslag boonop maar enkele ure voordat dit bekend gestel is – en boonop laatnag ­– ontvang.

Dít nadat UPL volgens hom sy volle samewerking gegee het om die chemiese storting wat die brand in Julie veroorsaak het, te help bestuur.

“UPL het eenvoudig nie genoeg tyd gehad om die voorlopige verslag behoorlik te oorweeg nie,” sê die maatskappy in ’n verklaring nadat dit aan die lig gekom het dat hy nou strafregtelik aangekla word vir die chemiese storting.

UPL meen dat die verslag geen aandag skenk aan die kern van die kwessie nie, naamlik dat die brand wat die chemiese storting veroorsaak het deur oproeriges tydens die onluste in KwaZulu-Natal gestig is en dat die nooddienste dit nie in bedwang kon bring nie.

Giftige stowwe het in die see beland nadat die aanleg tydens die oproer aan die brand gesteek is. (Foto: Carol Booth/Facebook)

“UPL is nes baie ander ondernemings aan sy eie genade oorgelaat in die lig van die ongekende en onvoorspelbare vlakke van geweld en misdaad. Dit lyk asof minister Creecy se departement hierdie kernfeit gerieflik ïgnoreer.”

Die maatskappy meen die departement het die verslag doelbewus ter elfder ure aan hom gestuur om hom van sy regte te ontneem en sê die verslag maak geen melding van die maatskappy se opruimingspogings wat hy ten duurste van stapel gestuur het nie.

UPL sê hy het hom tot dusver daarvan weerhou om die regering se swak hantering van die chemiese storting uit te wys. Hy verwys spesifiek na “die vele ongeorganiseerde, ongekoördineerde en teenstrydige reaksies van die owerhede”.

Die maatskappy sê hy het dit egter goedgedink om vir eers op die opruimingswerk en rehabilitasie van seelewe te konsentreer voordat hy mettertyd op die bewerings in die verslag sal reageer.

Maroela Media het vroeër berig groot hoeveelhede onkruid-, swam- en plaagdoders het in Julie vanjaar in die see beland toe oproermakers onder meer die UPL-aanleg in Durban aan die brand gesteek het.

Die storting het sedertdien tot die vrekte van duisende visse en ander seediere langs die kus van Umdloti en Umhlanga gelei.

Strande in die omgewing bly intussen as voorsorgmaatreël gesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Eugene ·

Creely moet verheug wees dat sy haar regering se onbekwaamheid op iemand anders kan blameer. Ons regdenkendes weet egter wie die eintlike oortreders is

annie ·

Nee. Die maatskappy is moontlik miskien dalk kwaad dat die minister se arm nie vroegtydig gedraai kon word met ‘n kliengelieng-spanner om tjoepstil te bly nie… Die maatskappy moes self geweet het dat voorsorg beter as nasorg is met sulke gevaarlike stowwe.

Riana ·

Wel ULP moet dan maar SAAK teen ANC regering maak… is ANC se skuld dat die onluste uit gebreek het, oor hulle swak en Kriminele leiers wat land regeer…. as dit nie vir hulle was nie, soe die gemors nooit gebeur het nie…..

Jacobus ·

UPL moet sommer ook sé wie die goedkeuring gegee het om die aanleg te bou op die betrokke stuk grond.

Jr ·

Die wêreld is siek. UPL herken hulle het nie binne die raamwerk van die wet gewerk het nie. MAAR WRAGTAG hoe durf die minister dit volgens UPL dit ook te doen. These people how do they think.?

Barney ·

Daai hele kuslyn is onrehabiliteerbaar. Dis ń skande. Maar dan ook weer dis die Zulus se probleem. Dis mos “hulle” land. Kry vir julle. Lag.

Piet parys ·

Barbara moet maar eers kyk of sy n cleaner se werk kan doen voor sy haar onbevoegde uitspraak maak . Die regering moet ingegryp het want dit is agv hulle kaders wat die eiendom beskadig het omdat die polisie nie beheer kon uit oefen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.