US: DA dreig met regstappe oor ‘wegsteek van getuienis’

universiteit-stellenbosch

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Die DA dreig met regstappe teen die Universiteit Stellenbosch (US) nadat ʼn aansoek om bewyse te sien wat gelei het tot die US se besluit om die rektor, prof. Wim de Villiers, van enige blaam te onthef in die aanstelling van ʼn nuwe kanselier, van die hand gewys is.

ʼn Herrie woed nou al maande lank om De Villiers ná bewerings dat hy op ʼn onvanpaste wyse probeer het om regter Edwin Cameron van die Konstitusionele Hof te oortuig om die universiteit se nuwe kanselier te word terwyl Cameron die hofsaak teen die US se taalbeleid om Afrikaans prakties af te skaf, aangehoor het.

Dr. Leon Schreiber, ʼn US-alumnus en die DA se kiesafdelingshoof in Stellenbosch, het ʼn klag hieroor aanhangig gemaak, waarna die universiteit regter Burton Fourie aangestel het om ʼn onafhanklike ondersoek daarna te doen.

Fourie het bevind dat “daar geen bewyse was ter ondersteuning van ʼn bevinding dat die optrede van die rektor rakende die nominasie van oudregter Cameron vir die amp van kanselier van die Universiteit Stellenbosch ʼn ernstige oortreding van die reg was, of ernstige wangedrag uitgemaak het nie”.

Schreiber het in Maart ʼn aansoek onder die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) by die universiteit ingedien en gevra vir toegang tot alle onderhoude, boodskappe en ander getuienis wat oorweeg is om tot dié besluit te kom.

Prof. Wim de Villiers. (Foto: US)

Hy sê verlede maand het die registrateur van die universiteit, dr. Ronel Retief, egter “botweg geantwoord dat die Paia-versoek geweier word”.

“Die DA se Paia-aansoek gaan daaroor om bewyse te sien wat deurslaggewend was in die universiteit se administratiewe besluit om De Villiers van blaam te onthef, ondanks aantygings in die openbare domein dat De Villiers en Cameron deurlopend persoonlik kontak gemaak het – en ten minste een keer in die geheim ontmoet het – terwyl De Villiers die eerste respondent was in die hofsaak voor die Konstitusionele Hof oor die voortbestaan van Afrikaans op Maties,” het Schreiber gesê.

“Cameron is tydens die verloop van die hofsaak tot kanselier van die US verkies en het later die uitspraak in die Konstitusionele Hof gelewer wat Afrikaanse onderrig aan die US grootliks keelaf gesny het.”

Die US sê hy neem kennis van Schreiber se verklaring, maar dat dit ʼn aantal onjuisthede bevat.

“Sy bewerings oor die onderwerp en die uitspraak van die grondwetlike hofsaak tussen US en Gelyke Kanse, is verkeerd en misleidend en sy weergawe oor sy versoek vir toegang tot inligting in terme van die Wet op die Bevordering van Inligting is eweneens verkeerd en misleidend.”

Die universiteit sê die Konstitusionele Hof het op 10 Oktober verlede jaar eenparig in die guns van die US beslis in die saak waarin die US ʼn hofaansoek van Gelyke Kanse, om die instelling te dwing om na die 2014-taalbeleid terug te keer, teengestaan het.

“Hierdie uitspraak van die Konstitusionele Hof het bevestig dat die universiteit se meertalige en inklusiewe 2016-taalbeleid aan die Grondwet en die Nasionale Taalbeleid op Hoër Onderwys (2002) voldoen. Om te beweer die uitspraak ‘effectively killed Afrikaans tuition at the SU’, is van alle waarheid ontbloot,” het die universiteit gesê.

Dr. Leon Schreiber.

Die US sê hy het in Oktober besluit om die onafhanklike ondersoek van stapel te stuur en dat dit nie ʼn “interne ondersoek” was nie.

Die US sê Cameron het hom eers vir benoeming beskikbaar gestel nadat toestemming van adv. Jan Heunis SC, namens Gelyke Kanse, ontvang is.

“Die getuienis in geheel het volgens oudregter Fourie nie gedui op onbehoorlike gedrag deur die rektor of oudregter Cameron nie. Dit dui ook nie daarop dat hulle in enige stadium op enige manier opgetree het wat redelikerwys beskou kon word dat regter Cameron partydig in die Gelyke Kanse-gedingvoering was nie.”

Die US het aan Maroela Media gesê hy het nie Schreiber se Paia-versoek toegestaan nie “weens redes wat deur artikel 44 (1) (a) van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting geregverdig is”.

“Dit was dus nie soos beweer die geval dat ons die Paia-versoek botweg geweier het of dat dit ʼn onwettige besluit was nie,” sê Martin Viljoen, woordvoerder van die US.

Schreiber sê lede van die Maties-gemeenskap, asook die Afrikaanse publiek, is daarop geregtig om die getuienis te sien waarvolgens die US besluit het om De Villiers vry te spreek.

“As die universiteit vertroue daarin het dat die besluit om De Villiers vry te spreek die korrekte een was, waarom steek hy dan die getuienis weg?

“Die DA sal nie toelaat dat De Villiers en sy bestuur met hierdie veragtelike optrede wegkom nie. Daarom het ons reeds regsadvies ingewin, en sal ons nie huiwer om die US se besluit in die hof te beveg nie.”

Schreiber sê die DA het reeds aan die ombudskantoor van die US geskryf om teen die Paia-aansoek te appelleer, asook versoek om teen vandag ʼn aanbeveling te doen dat die US-bestuur al die inligting wat deur die Paia-aansoek aangevra word, aan die DA beskikbaar moet stel.

“Indien hierdie onwettige besluit nie omgekeer word nie, sal die DA vir De Villiers en sy bestuur in die hof dwing om oop kaarte met die publiek te speel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

stargazer ·

So dis die ou kabal weer. Hoe kan die aanstelling nie gesien word vir wat dit was nie. Knoeiery. Sies

Anel ·

Hulle wou die taalbeleid verander en sou aanhou tot hulle hul sin gekry het. Dit het toe ook gebeur. Soos met alles in hierdie land.

Onnie ·

Ou Wim het seker gedog die stof het nou al gaan lê. Hiehie, kry vir jou mnr. Jy het mos gedink jy kan doen net wat jy wil. Die gesegde lui: Hoe hoër jy vlieg, hoe harder val jy.

Sarel ·

Ek gee niebom op watter grondr die versoek geweier was nie. Dit blyk dat hulle iets het om wrg te steek. Aan diander jsnt kan ek nie verstaan hoekom die zDa so baklei nie. Hulle ondersteun die vetengelsing van die Onderwys stelsel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.