US ‘nou weer gereed vir meertaligheid’

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Die Universiteit Stellenbosch (US) sê hy is daartoe verbind om meertaligheid by die instelling te bevorder en sal sy taalbeleid in die komende akademiese jaar ten volle in werking stel, noudat die bedrywighede op kampus normaalweg hervat word ná die Covid-19-pandemie.

“Ons beweeg deur die taalbeleid saam vorentoe in die bevordering van meertaligheid binne ons instelling,” sê prof. Deresh Ramjugernath, adjunk-visekanselier van leer en onderrig.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het vandeesweek bevind dat die US die afgelope twee jaar, sover dit prakties moontlik was, voldoen het aan die vereistes oor taal by die instelling.

Dit volg nadat die organisasie StudentePlein en die DA die US hof toe gesleep het oor sy beweerde versuim om self sy eie taalbeleid streng na te kom. Die applikante het ook aangevoer dat die US tydens die Covid-19-pandemie geheel en al weggedoen het met nuwe Afrikaanse leermateriaal.

Hoewel die DA en Studenteplein sy teleurstelling oor die hofuitspraak uitgespreek het, het die US Vrydag die oorwinning verwelkom.

Die hof het onder meer bevind dat die senaat en sy komitees nie die taalbeleid oortree het soos beweer is nie, en dat die besluit om die fakulteite se taaltoepassingsplanne te verander nie ongrondwetlik, onregmatig of ʼn skending van die 2016-taalbeleid was nie.

Luidens die US se verklaring oor die aangeleentheid bevestig die regter se uitspraak wat die US nog deurlopend as standpunt voorhou. Dít is dat daar geen afwyking van die 2016-taalbeleid was nie, maar wel “gekonsulteerde en goedgekeurde veranderinge aan sekere taalreëlings van sekere fakulteite”.

“Die US se Taalbeleid van 2016 het volledig hiervoor voorsiening gemaak,” sê die universiteit.

Soos tydens die hofsaak aangevoer, het die US gesê dat hy in goeie trou opgetree het tydens die Covid-19-pandemie toe verskeie sektore, ook universiteite, vinnig nuwe werkswyses moes vind en noodmaatreëls moes tref.

“Die uitdaging en uitwerking van die reuse- akademiese skuif om in Maart 2020 binne ʼn kort tydperk alle kursusse aanlyn aan te bied, kan nie genoeg beklemtoon word nie,” sê die universiteit.

“Omdat ʼn groot hoeveelheid bykomende aanlyn materiaal ontwikkel moes word met die byna onmiddellike en volledige skuif van residensiële na aanlyn onderrig te midde van ʼn nasionale inperking, het die werkslading buitengewone druk op dosente geplaas.

“Dit sou bykans onmoontlik wees om van dosente te verwag om in die betrokke omstandighede steeds alle nuwe leermateriaal in Afrikaans en Engels beskikbaar te stel.”

Volgens die universiteit is leermateriaal wat reeds in Afrikaans bestaan het, steeds aan studente verskaf.

“Etlike Engelse podsendings is ook na Afrikaans vertaal en assesserings was in Afrikaans en Engels beskikbaar. Dosente is ook ten sterkste aanbeveel om die Taalsentrum se dienste te benut.”

Die US is nou daartoe verbind om ná die chaos wat die pandemie veroorsaak het, opnuut bedrywighede weer normaalweg op die kampus, en sover onderrig betref, te hervat.

“Die universiteit fokus daarop om te verseker dat die 2021-taalbeleid ten volle ingestel word ingevolge fakulteite en verantwoordelikheidsentrums se taaltoepassingsplanne,” sê Ramjugernath.

Studenteplein het intussen aangedui hy oorweeg dit om teen die uitspraak te appelleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Julle gaan julle studente begin verloor en daarmee saam julle inkomste. Gaan voort en, by wyse van spreke, “vrek in vrede”….

annie ·

Ons hoop nie dat meer probleme by Eskom opduik nie, dan sal die US weer in ‘n krisis wees en Afrikaans weer moet opskop… wat nog weer ‘n vlaag… ( Julle weet wat.). Praat nie van Monkey-pox nie. Dan sal NASA nie eers binne die volgende dekade weer kan probeer om enigiets te lanseer nie nie.

Pannies ·

Hulle moet eerder probeer om misdaad uit te roei en Afrikaanse instellings uitlos.

Manie ·

Verduidelik as vir my wat Covid met die taalbeleid te doen het. Het Afrikaans Covid opgedoen by US?

Republikein in die Wes Kaap ·

Stellenbosch University is nou skoon deurmekaar, nes Eskom.

Nici ·

US druk jul universiteit en taalbeleid daar diep en donker waar die son nie skyn nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.