Uyinene Mrwetyana-moord: ‘Dit kon ék gewees het’

Alice Cropper. (Foto: Universiteit van Cambridge)

ʼn Facebook-inskrywing van ʼn vrou wat aanvoer sy het etlike kere sonder welslae ʼn verklaring by die polisie probeer aflê omdat sy glo sy het inligting oor Uyinene Mrwetyana se vermeende moordenaar het groot woede ontlok.

Polisie gekap

Alice Cropper se Facebook-inskrywing is die afgelope 24 uur al meer as 32 000 keer gedeel en duisende mense het daarop kommentaar gelewer. Talle mense het die polisie skerp gekritiseer vir hulle beweerde traak-my-nieagtige houding jeens die ondersoek.

“Dit is jammer dat die polisiebeamptes net daar is om nuttelose politici te dien en beskerm, terwyl belastingbetalers elke dag ly,” het Gideon Gidds geskryf. “Die polisie en die regering laat ons in die steek,” het Thembisa Masoka gesê. Jacques Rodriques skryf ook: “As hierdie soort gedrag die uitsondering op die reël was, sou dit ʼn verrassing gewees het. As jy by enige staatsinstelling instap, is dit egter normale gedrag. Hierdie mense is nie bevoeg om hulle werk te doen en behoort nie wetsgehoorsame burgers te dien nie.”

Mrwetyana-moord

Mrwetyana, ʼn 19-jarige student van die Universiteit van Kaapstad, het verlede maand vermis geraak en haar liggaam is later in Khayelitsha gevind. Sy moes met behulp van DNS-monsters uitgeken word.

Uyinene Mrwetyana (Foto: Facebook)

ʼn 42-jarige verdagte is intussen in verband met haar moord in hegtenis geneem. Hy het Vrydag in die hof verskyn en word van verkragting, moord en regsverydeling aangekla. Tydens sy hofverskyning is gehoor dat die man onder meer erken het waar hy van Mrwetyana se liggaam ontslae geraak het en dat sy glo lank geneem het om te sterf.

Aanklaer Nomnikelo Konisi het gesê Mrwetyana is verkrag en met ʼn skaal in die Clareinch-poskantoor doodgeslaan.

Mrwetyana is glo na die poskantoor om navraag oor ʼn pakkie te doen. Haar vermeende aanvaller, ʼn werker daar, het haar aangesê om later terug te kom omdat die krag af was. Met haar terugkeer was die man alleen in die poskantoor. Hy het volgens die staatsaanklaer die deur gesluit, vir Mrwetyana verkrag en haar doodgeslaan toe sy begin terugveg het.

Soortgelyke ervaring

Cropper voer aan sy was sélf ʼn paar dae voor Mrwetyana by die poskantoor. Dieselfde werker wat nou van Mrwetyana se moord aangekla word, het haar óók gehelp. “Hy het gesê die kaartmasjien is van lyn af en dat ek later moet terugkom, wanneer hy my sou help.”

Dit was kort voor toemaaktyd en Cropper het die man gevra om tóg maar haar transaksie te probeer verwerk omdat sy nie later wou terugkom nie. Die transaksie het vlot verloop en sy is ongedeerd by die poskantoor weg.

Cropper het koue rillings gekry toe sy die naam op die kwitansie sien. (Foto: Facebook)

Toe die nuus oor Mrwetyana se moord egter Maandag bekend word, het Cropper besef dit was dieselfde klerk wat haar gehelp het. Hoewel sy naam nie bekend gemaak mag word nie, is dit tóg wyd op sosiale media versprei. “Ek het my kwitansie wat nog op my lessenaar gelê het, nagegaan, en rillings gekry toe ek besef dit is dieselfde persoon wat my ʼn paar dae tevore bedien het.

“… dit kon dalk ek gewees het wat alleen toegesluit was saam met hom, pleitende en skreeuende vir my lewe, terwyl ek veg en niemand kom nie. Wie weet?”

Cropper het besluit om haar ervaring by die polisie aan te meld, met die bedoeling om te probeer help. Sy is omstreeks 16:00 Maandag na die Claremont-polisiestasie langs die poskantoor, waar ʼn beampte gesê het die speurders gaan om 15:30 huis toe en dat sy die volgende dag moet terugkom.

“Vir al wat sy [die polisiebeampte] weet, het ek die hele misdaad op my selfoon afgeneem, maar sy kon nie eens die moeite doen om my naam of nommer te neem nie.”

Tuis het Cropper die nommer van ʼn polisielid gekry op een van die pamflette wat in die soektog na Mrwetyana versprei is. Dit het onbeantwoord gelui en sy het ʼn WhatsApp-boodskap daarheen gestuur. Die boodskap is gelees, maar nie beantwoord nie.

Sy is Dinsdag terug na die polisiekantoor en het gevra om met die ondersoekbeampte te praat. Hier is sy meegedeel dat hy met verlof is. Iemand het wél haar kontakbesonderhede geneem, maar niemand het teruggebel nie.

Sy is Woensdag vir ʼn derde keer terug, waar sy weer iemand probeer oortuig het om ʼn verklaring af te neem wat dalk kon help bewys dat die misdaad vooraf beplan is. ʼn Polisiekonstabel het die ondersoekbeampte gebel, wat glo gekla het dat hy met verlof is.

“Sy het aan my verduidelik dat “die ou reeds gebieg het, jy sien”. Ek verstaan dit, maar dit beteken nie die saak is gesluit nie,” het Cropper geskryf.

Cropper skryf dat iemand ten einde laas haar verklaring afgeneem het “om gebruik of weggegooi te word soos die polisie goeddink”.

“Ieder geval. Ten spyte van gevoelens van hopeloosheid en met hernieude gebrek aan vertroue in die regering en polisie om ons te beskerm, hoop ek geregtigheid geskied vir Uyinene. Ek hoop daardie aaklige, roofdieragtige monster kry wat hy verdien en vrot vir die res van sy lewe in die tronk,” het sy gesê.

Oorweldigende reaksie

Cropper het Donderdag aan Maroela Media gesê sy is heeltemal oorweldig en verras deur die reaksie op haar plasing. “Ek besef die vlak van terugvoer wys op die diepe frustrasie en wanhoop wat mense – veral vroue – ervaar as hulle nie ernstig opgeneem word wanneer hulle by die polisie om hulp vra nie. My besoeke aan die polisie en my plasing gaan nie oor my nie. Dit gaan oor Uyinene en om geregtigheid vir haar te laat geskied.”

‘n Nagwaak word vroeër by die Universiteit van Kaapstad vir Mrwetyana gehou. (Foto: Twitter)

Cropper het gesê as haar plasing die gebroke stelsel ontbloot en politici wel daarvan kennis neem – wat hulle nou ook doen – is sy tevrede.

“As dit beteken dat selfs net een vrou wat iets by die polisie aanmeld nou voel dat sy ernstig opgeneem en geglo gaan word, is ek nie spyt oor die plasing nie.”

Polisie doen interne ondersoek

Lt.kol. André Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die Claremont-polisie het kennis geneem van Cropper se plasing.

“Die stasiebevelvoerder het ʼn onderhoud met me. Cropper gedoen en ʼn verklaring is by haar afgeneem,” het Traut gesê.

“Op grond van haar sosialemedia-plasing is ʼn interne ondersoek op provinsiale vlak ook van stapel gestuur om te kyk na die omstandighede rakende die saak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Die swerkater kon voorheen ook dieselfde gedoen het!!! M/Media volg asb op, want die geegs-ondienary vee te maklik goed onder die mat in!! “Don’t call us, we will call you – please don’t leave a number?

Kobus ·

Interne ondersoek? Wat ‘n grap want daar gaan niks van kom nie.

Niel ·

en die vraag wat by my opkom nou is… was arme Uyinene die eerste slagoffer? En Cropper net baie gelukkig was om nie “ook” ‘n slagoffer te word nie, en gespaar was?

Christa ·

80% van die mense wat n diens Moet lewer is onbevoeg vir jul werk. Nog nooit was ons eens pragtige land so vervalle Soos reeds Nou nie.

Verushka ·

Ek wonder die hele tyd wie sê hierdie arme kind was die enigste slagoffer……. Daar het hy dit met Alice Cropper ook probeer. Daar is so baie vroue wat gesoek word wat net weg is mens wonder….. Wat gaan aan, dis ‘n sieklike samelewing, wat die hel gaan aan!! As kind het ons nie eens geweet van misdaad nie, ons het met oop deure en vensters geslaap en buite in die somer op matrasse op die gras en tot donker in die straat gespeel…….

Koos B ·

Moet nie julle asem ophou oor die ondersoek nie.Al wat gaan gebeur is dat die betrokke onbevoegde persone kamstig verplaas is en daar nie meer teen hulle opgetree gaan word nie.

Sam Brookes ·

My dogter is ‘n kandidaat prokureur en werk sowat 200 meter van die poskantoor af. Haar praktyk doen al hul possake by die betrokke poskantoor. Sy het my gister vertel dat presies dieselfde met haar en ‘n kollega op verksie geleenthede gebeur het. Die aangeklaagde het ook vir hulle vertel dat die kaartmasjien nie werk nie, Nadat hy die transaksie voltooi het, maar nog nie die betaling geneem het nie. Hy het dan vir hulle gevra om later terug te kom sodat hy die betaling kan verwerk. Hierdie man is ‘n reeksverkragter wat nie daar sal ophou nie, hy is ‘n reeksmoordenaar in wording. Hy is ‘n geslepe slang, want my dogter vertel dat hy geweldig goed vertoon: baie vriendelik, ordentlik, beleefd, bekwaam, behulpsaam.
Hierdie man is beslis ‘n narsistiese psigopaat. Alleen ‘n psigopaat kan doen wat hy gedoen het en met vele ander voor hierdie arme student probeer doen het. Mag hy in die gevangenis sterf en nooit weer vrygestel word nie.

Sam Brookes ·

Ek het vergeet om te noem dat, net soos Alice Cropper, ek hierdie inligting aan Caremont polisiekantoor toe wou kommunikeer. Ek het vir die onderbeampte gevra, maar hy was nie daar nie. Geen probleem. Ek het my nommer gegee en gese dat dit inverband met die moord is, en hoor steeds nie van hom nie. Ek het vanmore weer gebel en het steeds nie vir hom in die hande kon kry nie. Ek het weer gevra dat hy bel, steeds geen reaksie nie en vanmiddag is hy op om die dame se begrafnis more by te woon. Die stasiebevelvoerder was die hele dag in vegadering – dis wat die personeel gese het. Nadat hulle vele poging aangewend om haar op te spoor. Ek het weer my nommer gegee dat hulle my skakel. Steeds niks. Moedeloos het die hoof van polisie, Generaal Sithole. Ek wag vir sy oproep. Dis nou 24 uur Nadat ek die polisie dringende verwante getuiens teen die moordenaar wou deel. Daar is geen reaksie nie, netsoos die dame hier rapporteer. Ek het uiteindelik die inligting aan ‘n nasionale koerant oorgegee want ek weet hulle sal seker maak dat dit op die regte plek sal uitkom.
Die polisie is ‘n teleurstellende kwasi-instelling wat nie vir die burgers van SA omgee nie.

Niklaas ·

Ek is maar erg teleurgesteld as ek lees van al hierdie berigte en gerugte oor SAP in SA se onbevoegdheid. Waarvoor word mense nog polisie lede ? Net vir salaris om nie te verhonger nie ? Daardie diens verswak nou blykbaar by die maand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.