Vakansiegangers help toe boot omslaan

Vakansiegangers het gehelp om die boot uit die water te haal. (Foto: Verskaf)

ʼn Groep vakansiegangers moes Vrydagoggend op Hartenbos se hoofstrand op hul voete dink toe ʼn rubberboot tussen die branders omgeslaan het.

“Ons het op die strand gesit en ʼn boot tussen die branders gesien dobber. Toe ons weer kyk is die boot onderstebo en die enjin in die lug,” het Marlene Oosthuizen, ʼn besoeker aan die Tuinroete, aan Maroela Media vertel.

Volgens Oosthuizen het hulle twee mans langs die omgekeerde boot sien dryf. Die lewensredders en ʼn groep mense op die strand het byna onmiddellik die see ingehardloop om hulp te verleen.

“Teen die tyd wat die lewensredders by die mans uitgekom het, kon ons sien dat daar nog twee mense in die boot was wat nou ronddryf.”

Lede van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het kort daarna opgedaag en die mense wat in die boot was na veiligheid geneem.

“Dit lyk darem asof niemand beseer of mediese behandeling nodig gehad het nie.”

(Foto: Verskaf)

Deur ʼn gesamentlike poging het die mense wat steeds in die see was daarin geslaag om die boot weg van die rotse af te stuur.

Die boot het egter nog koersloos in die see rondgedryf en ʼn klomp vakansiegangers het dit op hulle geneem om dít wat oor is van die boot te red.

“ʼn Klomp mense het see toe gehardloop en die boot uitgetrek en omgekeer. Die boot het egter baie skade opgedoen,” sê Oosthuizen.

“Dit het gelyk asof die een kant van die boot afgeblaas het en asof ʼn gewese dakkie platgetrek is.”

Maroela Media het intussen navraag aan die NSRI gestuur, maar wag nog op terugvoer.

Die omstandighede wat tot die voorval gelei het, is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.