Vakbond sê #BoikotGautrain

Argieffoto: Gautrein

Die United National Transport Union (Untu) het ʼn beroep op pendelaars gedoen om die Gautrein te boikot en die “vriendelike werkers” te ondersteun wat vir die vierde dag sonder betaling staak oor lone.

“Bombela, die maatskappy wat die Gautrein bedryf, het tot dusver elke truuk in die boek probeer om sy werkers in ʼn slegte lig te stel met bewerings dat Untu-lede ʼn 19%-verhoging eis, werkers wat nie staak nie intimideer, en Gautrein-busse probeer verhoed om die depots te verlaat terwyl ‘onderhandelinge voortduur’,” het Steve Harris, algemene sekretaris van Untu, Woensdagaand in ʼn verklaring gesê met die beroep op pendelaars om die treindiens te boikot.

“Dit moet die arrogansie van die Franse konsessiehouer wees aan wie Bombela sy winste betaal of dalk dié van die onderskeie Franse bestuurders van Bombela, aangesien die maatskappy nog nie gepoog het om die loononderhandelinge op te los wat Saterdag ʼn dooiepunt bereik het nie.”

Harris beweer volgens ʼn sogenaamde “geheime kontrak” moet ʼn sekere Franse konsessiehouer glo vir 15 jaar die winste van Gauteng se eerste sneltreindiens kry.

“Bombela sê luidens dié ‘geheime kontrak’ met die Franse konsessiehouer mag hy nie sy finansiële state bekend maak nie. Deur dit te weier, minag Bombela en die Franse konsessiehouer afdeling 16 van die Wet op Arbeidsverhoudinge,” het Harris bygevoeg.

“Ingevolge dié wetgewing is dit werkgewers se plig om enige inligting aan vakbondverteenwoordigers beskikbaar te stel wat die vakbonde in staat kan stel om namens die werkers te onderhandel. Dit sluit die beskikbaarstelling van finansiële state in.”

Harris het gesê Bombela het Woensdag met sy “veldtog” voortgeduur “om die waarheid te ontduik” deur aan Untu se prokureurs te sê die vakbondverteenwoordigers het nooit voorheen die finansiële state versoek nie.

“Untu se onderhandelingspan het op 3 Mei die eerste keer tydens ʼn vergadering die finansiële state aangevra. Tydens dié vergadering het Arnaud Legrand, Bombela se uitvoerende hoof, geweier om dit te doen, maar wel aangedui dat die maatskappy geld het vir bonusse as hy oortuig kan word dat werkers dit verdien.”

Harris beweer die vakbond het notules van die vergadering geneem. Untu verteenwoordig 90% van Bombela se werkers. Lede van die vakbond het Maandag met ʼn beskermde staking begin.

Untu eis ʼn verhoging van 10% op die basiese salaris plus ʼn verhoging van 113% op ʼn behuisingstoelaag (van R750 tot R1 600), plus ʼn nuwe vervoertoelaag van R800 vir werkers wat nie op skof is nie, plus ʼn verhoging van 101% vir ʼn vervoertoelaag vir nagdiens (van R31,84 tot R64 per skof), met ʼn 10%-verhoging vir nagskof, mediesefondstoelaag van 55/45 en ʼn R20 000-bonus per werknemer per jaar (ʼn algehele verhoging van 19,6%).

Volgens Harris bied Bombela ʼn 8,5%-salarisverhoging en wil die instelling nie werkers ʼn aansporingsbonus betaal nie. Dit is die eerste keer sedert die Gautrein se bestaan dat werkers oor lone staak.

Kesagee Nayager, die Gautrein se woordvoerder, het Donderdag aan Maroela Media gesê Untu se bewering word nagegaan, waarna hulle kommentaar daarop sal lewer.

Intussen het Philip van Staden, VF Plus-lid van die Gautengse wetgewer, gesê die bewerings oor Bombela se winste laat wenkbroue lig.

“Bombela moet verduidelik waarom hy aan Untu gesê het dat die Gautrein se winste aan ʼn Franse konsessiehouer gaan. Die VF Plus sien hierdie bewering as uiters ontstellend en skokkend en Bombela moet verduidelik waarom sy winste glo landuit gestuur word en nie terug na die Gautrein gekanaliseer word nie,” het Van Staden gesê.

Van Staden het gesê die Gautrein ontvang jaarliks “ʼn stewige bedrag geld” van Gauteng se provinsiale regering om sy werksaamhede en dienste te kan verrig.

“Hierdie entiteit het vir die 2018-’19- finansiële jaar 25% van Gauteng se departement van vervoer se algehele begroting van R7,6 miljard ontvang. Dit kom neer op ʼn bedrag van sowat R2 miljard. Die VF Plus meen dat Gautrein sy hand oorspeel en dat die LUR van vervoer, Ismail Vadi, dadelik hierdie beweringe moet ondersoek en ingryp voordat sake lelik skeefloop by Bombela.”

Van Staden het gesê die departement van vervoer in Gauteng kan dit nie bekostig om geld wat jaarliks aan Gautrein gegee word, te verloor nie en daarom sal hy vandag [Donderdag] by die paaie-en-vervoerkomitee van die wetgewer antwoorde oor hierdie bewerings eis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Osie ·

Goeie idee! Dan sal ek my werkgewer laat weet ek kan nie kom werk vir volgende week of so…..

Skepties ·

Ek boikot gautrein omdat my kaartjie te goedkoop is, sodat ek meer kan betaal vir ‘n reeds duur treindiens sodat die werkers effektied 19persent verhoging kan kry?

Regtig? ·

Makliker gesê as gedaan as mens tenvolle afhanklik is van die Gautrain om by die werk te kom. Hoop jul verloor sommer baie pendelaars agv die snert. Ons gaan elkgeval moet boet met hoër tariewe om jul verhogings te akkomodeer. Ek is oor hierdie land en sy eise! Kan nie eens meer n eerbare hardwerkende mens probeer wees sonder die vrees dat ek iewers langs die pad een of ander struikelblok soos dié van die Gautrain gaan teëkom wat my werk in gevaar gaan stel nie.

marous ·

Toemaar , een van die dae gaan hulle almal duur karre bestuur , met donkies voorgespan en lanterns vir ligte, want daar gaan nie meer spore of treine of brandstof wees nie. Hul kan maar solank begin geld bedel vir kursusse om te fluit….

Jannie ·

Sal ek Gautrein boikot sodat hulle my kaartjie duurder kan maak sodat die reeds bo markverwantsalarisse van werkers verhoog word? Nope

Bollie ·

So EK wat besig is om te sukkel met duurder vervoerkostes agv jul staking moet maar uithaal en betaal.. julle kry lekker verhoging, seker 4 keer die waarde as wat ek maandeliks kry, met toelaas en ekstras waaroor ek maar net kan droom, maar ek die een wat julle moet ondersteun..

bgj van der westhuizen ·

wel verhoging van 19% is belaglik die werkgewer biet hulle 8.5% gee wat nie sleg is in die tyd waar in ons is nie en dit is tyd dat daar minder gestaat word en meer gewerk word in suid afrika en dit is ook tyd dat unies ook minder hulle neus oral in steek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.