Vakbonde wil stokkie steek voor SAL-likwidasie

(Foto: SA Lugdiens/Facebook)

Die metaalwerkersvakbond Numsa en die Suid-Afrikaanse kajuitbemanningsvereniging (Sacca) wil regstappe neem om die likwidasie van die Suid-Afrikaanse Lugdiens te voorkom en het pres. Cyril Ramaphosa gemaan om finansiesminister Tito Mboweni af te dank.

Numsa en Sacca het “met skok en teleurstelling” kennis geneem van die onlangse persverklarings deur Mboweni en die nasionale tesourie dat die SAL, en ander staatsbeheerde entiteite, insluitend SA Express, “gesluit moet word”, het die twee vakbonde Sondag in ʼn gesamentlike verklaring gesê.

“Mboweni het effektief bevestig dat hy die likwidasie van SAL en SA Express ondersteun. Minister Mboweni het al sedert 2018 soortgelyke roekelose uitsprake gemaak. Sy jongste standpunt en dié van sy departement is teenstrydig met die amptelike posisie van die regering, en spesifiek, die posisie van die departement van openbare ondernemings waar minister [Pravin] Gordhan formeel die posisie aanvaar het teen die likwidasie van die SAL.”

Die vakbonde het bygevoeg die departement van openbare ondernemings het baie moeite gedoen om ʼn leierskap- konsultatiewe forum saam te stel, uit die kompak-ooreenkoms, en wie se doel hoofsaaklik is om likwidasie te voorkom en dit te herstruktureer in ʼn volhoubare, winsgewende en doeltreffende lugdiens.

Die vakbonde sê dit is nie die eerste keer dat Mboweni sulke uitlatings maak nie en hy moet “daarvoor aangekeer word”. “Dit is belangrik om te noem dat die nasionale tesourie aandadig is in sy rol by die SAL, omdat dit opgetree het as aandeelhouer-verteenwoordiger vir die SAL tydens ʼn tydperk waar daar oor forensiese verslae by die SAL berig is en dit gepubliseer is, en tog het die nasionale tesourie versuim om op te tree om die wanbestuur en plundery te voorkom.”

Numsa en Sacca het gesê hulle sal nie “onverantwoordelike verklarings duld nie en doen ʼn beroep op pres. Ramaphosa om onmiddellik in te gryp en Mboweni vir sy roekeloosheid af te dank.”

Numsa en Sacca is besig om regsadvies in te win om die beste stappe vorentoe te bepaal. “Ons sal onder geen omstandighede die likwidasie van die SAL aanvaar nie – ook nie SA Express of enige ander staatsbeheerde entiteit nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

JohanR ·

Soe is die vakbonde nou die regering van die land? Kan nie onthou dat hulle name op die laaste stem brief was nie!

Nie Verbaas ·

SAL sal nooit n vohoubare en winsgewende besigheid in hande van ANC wees nie. Geskiedenis van ANC se mislukking met staats entiteite bewys dit.

Johan ·

Numsa en agterpraters Tito is die enigste een met redenasie vermoe hy sien wat is besig om te gebeur .Vervang eerder Rampspoedig met hom dalk sal iets gebeur.

Johanncb ·

Verwag die vakbonde werklik dat die belastingpligtige aaneen die sinkende lugdiens aan die gang moet hou? Komaan ouens, wees asseblief realisties!

Maria Aletta ·

Dis maklik laat die vakbonde die lugdiens finansier om dit te red van likwidasie.

Jerry ·

Ek kan nie wag dat SAL nou uiteindelik gesluit gaan word nie, genoeg geld gemors. Volgende is Eskom

Jackie ·

SAL ja, maar Eskom? Laat krag opwekking in pvt hande (ANC vriende) dan betaal ek en jy 500% meer vir ons krag.

Pieter ·

Hier gaan dit nie oor werkers nie, en selfs nie oor wie soos Mboweni logies kan dink nie. (Hulle is nes Eff, dit gaan alles net oor gulle). As werkers weg is verloor hulle die maandlikse geld van lede. Dink ons moet die vakbonde stuur Zim toe eb Eff dan is hulle sorted.

Cabytheron ·

Hoekom koop die vakbonde dan nie maar vir SAL nie? Maklik om te praat as jy nie moet opdok nie. Wanneer gaan die werklikheid by hierdie mense insink??? Seker nooit, want as hulle nou nog nie besef het wat die toedrag van sake is nie, dan nooit.

Scalla ·

Vakbonde is n onding, maak die bodemlose put toe en kry klaar.

marius ·

Water kom uit ‘n kraan , kos uit ‘n winkel en geld uit ‘n masjien . Begin maar vliee plakke maak vakbond meesters, want dit gaan baie vinnig die karkas wat julle geskep het toe sit .

Boortor ·

Gee asb SAL vir die vakbonde! Hoe moeilik kan dit nou wees? Niemand stel inelkgeval belang in die gemors nie!

Flip ·

Numsa en sacca aanvaar nie die likwidasie nie. Wel ek as belastingbetaler aanvaar nie dat julle regering my swaarverdiende belasting so mors nie!

Alleen Wolf ·

Die vakbonde en die korrupte bestuur is die direkte oorsaak van SAL se finansiele situasie, en hulle het die vermetelheid om nog te dreig

Leon ·

Die vakbonde regeer Suid Afrika al baie lank. Die SAL is op ‘n hart long masjien en is lankal brein dood. Hulle moet net die masjiene afskakel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.