Van platsak enkelma tot slim sakevrou

(Foto: Verskaf)

ʼn Flater met haar hare het daartoe gelei dat ʼn enkelma van Elsiesrivier in die Wes-Kaap haar eie sakeonderneming begin het.

Leshme de Bruyn (34), die ma van ʼn tienjarige seun, sê sy het in haar wildste drome nooit gedink dat sy eendag haar eie sakeonderneming sou hê nie. Vandag het sy haar eie handelsmerk vir haarprodukte, wat haar in staat stel om genoegsame inkomste vir haar én haar seun te genereer.

“Ek is van die Kaapse Vlakte – ander mense is geneig om neer te kyk op dié wat hier woon, hulle is geneig om te dink dat die inwoners hier uit bendes en misdadigers bestaan, maar ek glo jy is wat jy van jouself maak,” sê sy geesdriftig.

Sy het aan Maroela Media gesê dat sy deur baie swaar tye in haar lewe gegaan het, maar dat dit juis hierdie beproewinge is wat haar gemaak het wie sy vandag is.

“Ek was vir meer as vyf jaar ʼn administratiewe klerk by ʼn finansiële instelling, maar ek is onverwags in Mei verlede jaar afgedank.

“Ek het nie geweet wat ek gaan doen nie, ek was oorweldig deur vrees oor waar ek ʼn inkomste vandaan gaan kry,” sê De Bruyn.

Dit is ʼn flater met haar hare wat later tot ʼn sakegeleentheid aanleiding gegee het.

“Ek het twee jaar gelede die begeerte gehad om my hare te bleik en as ek eers op iets besluit het sal niks in my pad staan nie,” lag sy. “Ek wou my hare wit hê, maar dit het grys en pers uitgekom.”

Twee dae later het De Bruyn weer probeer.

(Foto: Verskaf)

“Toe ek my hare ná die verbleiking afspoel, het ek gesien hoe my hare stuk vir stuk in die drein verdwyn. Daar was byna niks oor nie, my hare het van skouerlengte tot ʼn lengte van 5 cm afgebreek. Dit was verskriklik, ek het groot geskrik.”

Sy het in daardie stadium meer spyt as hare op haar kop gehad, en verwys na die verbleiking as haar grootste fout wat in ʼn groter seëning verander het.

“Ek het toe my ma se medisynekas ingevaar en klomp olies gemeng om die bietjie hare wat ek op my kop oorgehad het, te probeer red.

“Ek het roosmarynolie, klapperolie, olyfolie en nog ʼn paar ander essensiële olies gemeng en dit in my hare ingesmeer. Ek het dieselfde konkoksie vir ʼn paar weke gebruik totdat ek ʼn verandering in tekstuur opgemerk en my hare weer begin groei het.”

De Bruyn vertel dat sy daarna baie navorsing begin doen het oor hoe om haargroeiprodukte te maak en te verkoop.

“In April verlede jaar het ek my eie konkoksie vir kollegas en ook vir vriende en familie gegee om dit te probeer en terugvoer te gee – waarvan almal baie positief was.”

“Dit is toe dat ek aan ʼn handelsmerk begin dink het – om die regte handelsmerk en houers vir my produkte te kry, sodat ek ʼn inkomste daaruit kan maak,” vertel sy.

Miss L het kort daarna op die rakke begin verskyn.

“Ek het in dieselfde tyd skielik my werk as administratiewe klerk verloor en my produkte het my hoofbron van inkomste geword.

“Ek het party oggende wakker geword en vir myself gevra waar gaan ek vandag geld in die hande kry? Sommige nagte het ek wakker gelê daaroor.”

Haar seun, na wie sy alleen omsien, is haar motivering. “Dit is hy wat my gedryf het om moed te hou en voortdurend met nuwe idees vorendag te kom. Ek het besef dat ek ʼn inkomste moet verdien om na hom te kan omsien.”

’n Kosmetiese maatskappy, Cosmetic Connection, het gou De Bruyn se Miss L produkte raakgesien en verkoop dit tans aanlyn.

“Hulle het ook onlangs na my uitgereik en gesê hulle stel belang om my produk in hul winkels te verkoop.

“Ek doen ook alles self, van die meng van bestanddele tot die vul van die bottels en die etikettering.”

(Foto: Verskaf)

Sy het tans nege produkte op die mark en tien verskillende pakkette wat sy vir kliënte aanbied, “en dit vlieg nou van die rakke,” sê De Bruyn.

“My produkte is ongelooflik goedkoop teenoor ander soortgelyke produkte en dit werk regtig goed. Ek het baie navorsing gedoen oor hoeveel ek kliente vir my produkte kan vra, maar ek het op die einde self besluit dat ek dit so goedkoop moontlik gaan hou omdat ek weet dat ek self nie baie geld op soortgelyke produkte sal bestee nie – ons lewe in moeilike tye.”

De Bruyn sê sy het in een jaar so gegroei dat sy al verskeie agente in ʼn hele paar provinsies het en dat sy selfs ʼn agent in Zambië het wat haar produkte vir kommissie verkoop.

“Ek is tans op soek na nog agente wat saam met my kan werk om my produkte te bemark en vir ʼn kommissie te verkoop.”

De Bruyn het intussen ook besluit om haar graad in sakestudies te doen. Sy sê haar grootste doelwit nóú is om haar studies te voltooi.

“Ek sal ook baie graag my eie winkel wil oopmaak waar ek Miss L-produkte kan verkoop.

Sy moedig enigeen wat graag ʼn onderneming op die been wil bring aan om dit te doen.

“Dit gaan oor jou ingesteldheid, as jy dink jy kan dit doen, dan kan jy,” sê sy.

“Daar gaan altyd uitdagings wees, solank jy net aanhou glo in jouself en doen wat jy graag wil doen. Niks en niemand kan jou definieer nie. Jy self is al wat dit vir jou gaan moontlik maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.