Van TV’s tot vurke (en ʼn matras) in Kaapstad se rioolstelsel

(Foto: Verskaf)

Motorbande en -onderdele, lappe, klere, emmers vol eetgerei en selfs ʼn televisiestel is van die vreemde items wat die Kaapstad-metro se water- en sanitasiespanne onlangs moes verwyder toe hulle verstopte rioolpype in die stad skoongemaak het.

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, sê die stad het oor die afgelope boekjaar (van Julie 2022 tot Junie 2023) sowat R417 miljoen bestee om verstoppings in Kaapstad se rioolstelsel te takel.

“Die stad se water- en sanitasiespanne maak meer as 300 rioolverstoppings per dag skoon,” sê Badroodien.

(Foto: Verskaf)

Dié verstoppings word veroorsaak weens onwettige storting en die misbruik van die rioolstelsel.

“In sowat 85% van hierdie gevalle is die verstopping weens die misbruik van die rioolstelsel waar items soos lappe, vroulike higiëneprodukte, bourommel, rommel, vette en olies onwettig in mangate gestort word of die stelsel binnekom deur wasbakke of toilette.”

Die stad het selfs al ʼn televisiestel en motoronderdele uit die rioolstelsel verwyder, sê Badroodien.

“Onlangs is lepels en vurke uit rioolpype in Mfuleni verwyder. Op 21 Junie is ʼn matras met behulp van gespesialiseerde skoonmaaktoerusting en mannekrag uit die mangat in Lavender Hill gehaal. Dit het ongeveer vier uur lank geduur.”

Spanne spuit die rioolpype skoon as proaktiewe maatreëls om rioolverstoppings te verhoed, sê Badroodien. Die spanne vervang ook pype soos nodig.

(Foto: Verskaf)

Die stad doen ook opvoeding- en bewusmakingsveldtogte oor onwettige storting in die rioolstelsel, waaronder die Bin It- en die Don’t Block It-veldtog.

“Inwoners moet bedag wees op wat hulle met hul afval doen. Toilette, rioolpype en dreine is nie asdromme nie. Afval wat in die rioolpyp beland, sal dit verstop en verder druk plaas op die riool-infrastruktuur oor die stad. Dit kan selfs lei tot die beskadiging van infrastruktuur, wat die stad geld sal kos.

“Terwyl die stad proaktiewe maatreëls tref om die oorvloei van riool te help verminder, doen ons ook ʼn beroep op inwoners en gemeenskapsleiers om die beskikbare hulpbronne op die stad se webwerf te gebruik om deel te neem aan pogings om bewustheid oor hierdie kwessie te skep en wat ons almal kan doen om rioolverstoppings te voorkom.

“Die werklikheid is dat die stad nie kan keer wat inwoners in die toilet of by ʼn wasbak afspoel of in ʼn drein stort nie. Dit is dus die gemeenskappe se verantwoordelikheid om dit nie te doen nie en só rioolverstoppings te voorkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Althes ·

Dit sê baie van die mense wie die gemors in rioolpype gooi. Dalk moet die gemeenskapleiers daardie inwoners opvoed.

Delia ·

Hierdie gebeur in Gauteng ook. Ek behoort aan 2 groepe wat in ons vrye tyd rommel optel. Hele swartsakke word ook in rioolpype gevind, kos, ou klere, boumateriaal ens. Dis nie net straatbewoners. Dis ook huisbewoners oor alle kleurgrense heen. Want wanneer vullis nie verwyder word, raak mense daarvan ontslae in oop velde, beskermde areas, ens.
Dit is n groot probleem.

Andre ·

Delia is reg.Alles word net gestort op enige plek.Vullis verwydering ontbreek op plekke en mense raak ontslae van hulle gemors op enige oop veld,stroom of sloot.

HPJ ·

Dit kan nie wees nie Want soos alle afrikaanse media aangaan is die Kaap onder die DA beter as die hemel self So hierdie moet mense wees wat van die Tvl gekom het om dit te doen Die DA (ANC LIGHT)sal nooit so iets laat gebeur nie Skandelike mense van buite wat dit gedoen het

Mallie ·

Het iemand al ooit die trein stasies tussen Johannesburg en Durban gesien. Daar word selfs matrasse op die spoor lyn gegooi. Die rotte is groter as hase.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.