VBS Mutual Bank onder kuratorskap geplaas

Lesetja Kganyago, goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Die nasionale tesourie het Sondag gesê die aankondiging van Lesetja Kganyago, die goewerneur van die Reserwebank, Sondagmiddag dat VBS Mutual Bank onder kuratorskap geplaas sal word, het ten doel om ʼn ommeswaai in dié onderlinge bank teweeg te bring.

Nhlanhla Nene, minister van finansies, het die aanbevelings van die registrateur van banke dat VBS onder kuratorskap geplaas moet word, goedgekeur om volgens die tesourie die bank “te genees en weer terug op die pad na gesondheid te plaas”.

Volgens die tesourie geld kuratorskap in teenstelling met likwidasie waar die bank gesluit word.

Die kuratorskap sal wettige leisels hê om die nodige maatreëls in te stel as oplossingsplan om langtermyn-stabiliteit vir die bank te verseker.

Die rede agter die besluit om munisipaliteite daarvan te weerhou om geld in onderlinge banke te plaas, strook met die doel om te verseker dat geld wat vir dienslewering bestem is so verantwoordelik moontlik bestuur word.

Onderlinge banke verskil op verskeie maniere van kommersiële banke volgens die tesourie: Hulle is gewoonlik kleiner as kommersiële banke. Teen die tyd dat VBS deposito’s van munisipaliteite af begin ontvang het, was sy balansstaat slegs R200 miljoen sterk. Dié staat staan vandag op R2 miljard. Sommige tipes deposito’s in die onderlinge bank geld as ʼn aandeel in dié bank en word nie volgens dieselfde standaard gereguleer nie.

Die tesourie het beklemtoon aangesien banke hoogs gereguleerde instellings is, moet hulle nie net ʼn groot kapitaalreserwe opsy sit nie, maar ook versigtig wees om nie die wet te verbreek met hul handelinge nie.

Hulle moet voldoen aan die Wet op Finansiële Bestuur, die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) en die  Wet op Finansiële Intelligensiesentrums (FIS).

Ingevolge die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur mag munisipaliteite nie hul geldsake by gesamentlike banke doen nie, maar net by ten volle geregistreerde banke.

“Die raad van enige bank moet te alle tye binne die wet optree en verantwoordelikheid aanvaar vir hul sakemodel en die risiko’s wat daarmee gepaardgaan,” het die tesourie gesê.

Die tesourie werk sedert laat 2016 aan ordelike oplossings vir die probleem van munisipaliteite wat munisipale deposito’s by onderlinge of gesamentlike banke doen. Hy het in Augustus 2017 skrywes aan spesifieke munisipaliteite gerig en hulle bedag gemaak op die wetlike vereistes.

Die tesourie het gesê hy sal met die betrokke banke skakel, die omvang van die potensiële skade bepaal en verseker dat dienslewering nie beïnvloed word nie.

“Die afgelope paar maande het die tesourie en die reserwebank nou saamgewerk om die bank te dwing om die gewone deponeerder te beskerm. Dit is nooit die bedoeling van die tesourie vir enige bank om gelikwideer te word nie, veral nie klein banke met swart eienaars nie. Die tesourie se stappe probeer ʼn balans vind tussen die behoefte aan ʼn meer gediversifiseerde kleinbanksektor en goed bestuurde munisipaliteite,” lui hul verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Pieter ·

Hoekom is Capitec die beste bank in Suid Afrika
1) goeie diens
2) Die regte bestuur
So kry vir julle wanabees.

SjN ·

Hoekom word al die aankondigings altyd na ure, in die geval, Sondagmiddag gedoen, wat doen hulle in die week, ek laat my nie vertel daar is al n geruime tyd gevaarligte wat flikker nie. Kurator en Z moet in gesprek tree insake uitstaande lening.

dr. Sakkie van der Merwe ·

Kyk net die gesanik oor hoekom hulle vou. Weereens moet ander die skuld kry omdat ‘n “swart” bank ondergaan. Vertrou dat Tesourie nie weer soos met African Bank gaan ingryp en geld “leen” nie”.

marous ·

Die munisipale depositos was onwettig? Is dit nie geld wat van belastingbetalers uitgewurg is waarmee Eskom en watervoorsieners ens betaal moes word nie? As daar 2 miljard is , waarom word geregtelike bestuur oorweeg? Is die geld nou weg?

Koos1 ·

So is ek reg as ek sê dat die belastingbetaler nou ook vir die R7.6 mij. van Zuma se paleisie ook gaan betaal? Hy het mos die geld by daai bank geleen. Het hy al begin terug betaal daarop???

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.