‘Veedief’ doodgeskiet, makker gewond; nog vyf vas  

Veediewe wat in die Vrystaat in hegtenis geneem is deur die polisie.

Twee vermeende veediewe wat gister deur die polisie in hegtenis geneem is terwyl hulle glo besig was om ‘n gesteelde bees te slag. (Foto: SAPD)

Lede van die Welkom-polisie het Woensdag omstreeks 18:00 op ʼn wenk gereageer omtrent onwettige vuurwapens in die Phuthaditjhaba- informele nedersetting.

By die polisie se aankoms by die huis in Kudumane waar die onwettige vuurwapens na bewering gehou is, het twee verdagtes op die vlug geslaan. Die polisielede het die mans te voet agterna gesit. Die mans het in daardie stadium ʼn rivier oorgesteek en die berge in gevlug.

Sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder, sê een van die verdagtes het in ʼn struweling betrokke geraak en probeer om een van die lede se vuurwapen af te neem.

“Maar die opgeleide skut wat die lid ondersteuning gegee het, het daarin geslaag om twee skote af te vuur. Een skoot het die verdagte noodlottig gewond,” sê Kareli.

Die tweede verdagte is in hegtenis geneem. Volgens Kareli is daar by die huis op twee ongelisensieerde vuurwapens beslag gelê. Een was begrawe in ʼn kraal naby die huis. In die huis is daar ook beslag gelê op ammunisie wat onder ʼn matras versteek was.

Die oorledene is vroeër deur die polisie gesoek om tereg te staan op twee aanklagte van moord asook ʼn verdere klag van die besit van ʼn onwettige vuurwapen in ʼn ander voorval. Sy makker sal na verwagting binnekort in die plaaslike landdroshof verskyn op ʼn klag wat verband hou met die besit van ʼn onwettige wapen en ammunisie.

Veediewe wat in die Vrystaat in hegtenis geneem is deur die polisie.

Die onwettige vuurwapens waarop die polisie in Phuthaditjhaba op beslag gelê het. (Foto: SAPD)

Die dag voor dié voorval het die polisie in Virginia vyf verdagtes in twee onverwante voorvalle in hegtenis geneem nadat hulle glo met gesteelde beeste in hul besit betrap is.

In die eerste voorval het die polisie ʼn wenk ontvang dat daar twee persone is wat beeste aanjaag. Die verdagtes het weggehardloop toe die polisie opgedaag het.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, het bevestig die twee is ingehaal en in hegtenis geneem. Die polisie het 12 Bonsmarakoeie en twee -kalfies ter waarde van R155 000 geskut. Al die beeste is gebrandmerk.

“Die eienaar van die beeste is opgespoor deur middel van die brandmerk en hy het op die toneel opgedaag en sy beeste uitgeken. Die polisie het die beeste aan die merkbaar verheugde eienaar terugbesorg,” sê Thakeng.

In ʼn tweede voorval het die polisie Sondag nog drie verdagtes gearresteer.

Ook in dié geval het die polisie ʼn wenk ontvang van drie mans wat glo besig was om beeste te slag op ʼn plaas in die Virginia-omgewing.

ʼn Lokval is in samewerking met die polisie en die plaaslike eenheid vir bedreigde spesies gereël. Terwyl die drie verdagtes besig was om ʼn koei af te slag is hulle in hegtenis geneem, sê Thakeng. Een verdagte het gevlug, maar is later aangekeer met behulp van lede van die gemeenskap wat hom opgemerk en sy bewegings aan die polisie deurgegee het.

Die polisie het op verskeie messe, kapmesse, die karkas van die koei en nog vyf beeste beslag gelê. Volgens Thakeng het die eienaar van die beeste later daardie selfde dag sy beeste kom uitken en hulle saam hom teruggeneem.

Die drie mans het reeds in die hof verskyn en sal tot 6 November in aanhouding bly waarna hulle na verwagting om borgtog aansoek sal doen. Die ander verdagtes sal later dié week in die hof verskyn, het  Thakeng bevestig.

Veediewe wat in die Vrystaat in hegtenis geneem is deur die polisie.

Van die gesteelde beeste wat in Virginia deur die polisie teruggekry is. (Foto: SAPD)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

domheks ·

Dankie SAPD in die Vrystaat, lyk of julle fiks is en lus om te werk!

Casper ·

Gee vir hierdie lede ‘n medalje elk.Welgedaan,net jammer daar is so baie van julle makkers wat nie so passievolle is nie en eerder anderkant toe sou kyk of gerieflikheidshalwe nie vervoer gehad het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.