Veeljaar-salarisooreenkoms by Unisa bereik

(Foto: Jacques Naude/ANA)

Die bestuur van Unisa en twee erkende vakbonde by die universiteit het vandeesweek ʼn veeljaarooreenkoms onderteken wat enige geskille oor salarisse en salarisverwante verhogings vir drie jaar lank skik.

Unisa sê dié ooreenkoms is “ongekend” vir die universiteit, aangesien dit die eerste van sy soort is.

Die vakbond Nehawu en die Akademiese en Beroepspersoneelvereniging (Apsa) het Maandag formeel die ooreenkoms met Unisa onderteken.

Dit is ʼn drie jaar lange ooreenkoms wat van toepassing is op alle permanente en vastetermynkontrakwerkers wat binne die bedingingseenheid val. Die ooreenkoms geld nie vir werknemers in diens van die studentewerkerskema of stukwerkers nie.

Die ooreenkoms is van 1 Januarie 2024 tot 31 Desember 2026 van krag.

Die ooreenkoms sluit onderhandelinge oor salarisverhogings in, asook behuising- en mediesefondstoelae. Laasgenoemde word volgende jaar verhoog.

Die partye het onder meer ooreengekom dat die werknemers van Unisa se salarisse volgende jaar met altesaam 6,6% verhoog word. Hiermee saam sal alle permanente en vastetermynwerknemers ʼn eenmalige bedrag van R3 500 ontvang.

Vir die volgende twee jaar word die salarisse opwaarts met 0,5% of 1% aangepas, en dit sal tred hou met verwagte inflasie.

Prof. Puleng LenkaBula, Unisa se rektor en visekanselier, het die ooreenkoms verwelkom.

“Dit is nie net ʼn welkome ontwikkeling omdat dit ongekend is vir die universiteit nie, maar ook omdat dit die bestuur en werkers gerustheid gee sodat hulle spesifiek kan konsentreer op akademiese projekte van die universiteit. Dít terwyl ons gesamentlik poog om die plaaslike en internasionale aansien van hierdie nasionale bate te probeer herstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Volgende jaar kan Unisa nie die verhogings bekostig nie. Dan staak die personeel.

Seef ·

“Ooreenkoms” nie eers die papier werd waarop dit gedruk is nie!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.