Veldwagters in Krugerwildtuin vas vir bedrog

SANParke

Twee veldwagters verbonde aan die Krugerwildtuin is Saterdag in Skukuza in hegtenis geneem op aanklagte wat verband hou met korrupsie, bedrog en geldwassery wat met wildhandel verband hou.

Die inhegtenisnemings is die resultaat van ʼn uitgebreide ondersoek gelei deur die Valke met ondersteuning van Skukuza se eenheid vir veediefstal en die eenheid vir bedreigde spesies.

Ao. Bonnie Nxumalo, polisiewoordvoerder, sê die inhegtenisnemings volg ná ’n omvattende ondersoek oor die verdagtes se geldsake.

“Daar word beweer dat die verdagtes taktiese inligting aan renosterstropers verskaf het in ruil vir ’n groot bedrag geld,” bevestig Nxumalo.

Die twee verdagtes, onderskeidelik 56 en 60 jaar oud, sal na verwagting Maandag in die Bosbokrand-landdroshof in Mpumalanga verskyn.

Nxumalo sê verdere inhegtenisnemings kan nie uitgeskakel word nie.

Gareth Coleman, besturende uitvoerende hoof van die Krugerwildtuin, sê dit is betreurenswaardig dat sommige van die wildtuin se werknemers na bewering gekies het om by onwettige aktiwiteite betrokke te raak.

“Soos hierdie inhegtenisnemings aandui, monitor wetstoepassingsagentskappe ons optrede noukeurig. Wanneer werknemers ontmasker word, het dit verreikende gevolge vir hulself, hul gesinne en hul eie gemeenskappe,” sê Coleman.

“Slegs deur dissipline, eerlikheid en spanwerk saam met die begeerte om die mense van ons land onbaatsugtig te dien, sal ons die gety van renosterstropery in die Krugerwildtuin kan stuit.”

Enigiemand met meer inligting wat tot die ondersoek kan bydra, kan die Valke se ondersoekbeampte, kol. Danie Hall, by 071 481 3281 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nie Verbaas ·

Om n werk te hê en n inkomste te verdien is nou maar net nie genoeg vir sekeres nie. Hulle is veldwagters maar gee absoluut niks om vir die natuur wat hulle moet beskerm nie. Sluit die gemors toe vir n lang tyd.

Papsak ·

Sluit die gemors toe want hulle kan niks lewend los nie alles moet verwoes word om hulle maar net hulle moet lewe

maruis ·

Dit help nie ons word kwaad vir die dade nie, want luister mooi – ons praat nie van korrupsie, bedrog of diefstal nie, ons praat dat die mense word aangekla onder die “NEW NORMAL”.

Di ·

Hulle kla dat hulle nie werk kry nie, maar gee jy hulle werk raak hulle GIERIG! Lyk my dis ‘n algemene probleem onder sekeres in die samelewing, ANC Kaders stel voorbeeld vir hulle eie mense. Hoop die gemors sit lank in die tronk waar hulle tipe hoort

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.