Verblyftekort kan krisis raak by US

(Foto: Stellenbosch-munisipaliteit/Facebook)

Eiendomsagente op Stellenbosch vrees dat ʼn krisis wag op studente wat by die Universiteit Stellenbosch (US) vir die 2024- akademiese jaar ingeskryf, geregistreer en op die gebruik van privaat losies staatgemaak het. Dié studente kan binnekort op straat wees weens ʼn ernstige tekort aan verblyfopsies.

Eiendomsagente wat in die verhuring van studente-akkommodasie spesialiseer, is dit eens dat daar ʼn tekort aan privaat verblyf vir studente is.

Hendrik Lemmer van Coetzenburg Eiendomme, wat al etlike jare blyplek vir studente verhuur, meen die tekort kan groot probleme veroorsaak.

“Dit is die eerste keer in baie jare dat ons talle aansoekers moet wegwys omdat daar nie blyplek is nie. En dit is nie net enkele gevalle nie. Tientalle aansoekers moes al die deur gewys word en ons weet nie waar hulle gaan blyplek kry nie.”

Linda van Zyl, algemene bestuurder van MySpace, ʼn onderneming wat studenteverblyf verskaf, sê 90% van hul akkommodasie word deur studente opgeneem.

“Ons bied 1- tot 4-slaapkamereenhede aan, waarvan die meeste kamers en suite is. Wi-Fi is ingesluit, asook krag en water. Ons bied ook ʼn gratis pendeldiens, toegang tot die gimnasium, een keer per week skoonmaakdienste, 24-uur-sekuriteit en toesighouerkameras. Elke kamer is ook gemeubileer. Ons het 600 beddens op Stellenbosch beskikbaar, wat almal tans gevul is.” Van Zyl het bevestig dat hulle vanjaar heelwat meer aansoeke as vantevore gekry het.

“Ondanks die feit dat die pryse vir ons kamers wissel tussen R7 000 en R14 000 per maand het ons ongeveer 2 000 aansoeke ontvang, maar kon net 600 inwoners huisves.”

Volgens ʼn woordvoerder van die US het die situasie rakende studente-akkommodasie die afgelope twee weke dramaties verander. Die plekke wat oop was, is opgeneem. Al die groot verskaffers wat nog verlede jaar hierdie tyd oop was, is nou vol, met waglyste. Daar word nou noodgedwonge gekyk na blyplekke buite die dorp.

Die Nooitgedacht-woonbuurt net buite Stellenbosch het ook geen studenteverblyf beskikbaar nie, hoewel sekere dele daar vantevore studente gehuisves het.

Lemmer het by navraag gesê: “Daar is definitief ʼn beskikbaarheidskrisis oor verskillende prysklasse heen, nie net vir studente wat met NSFAS-ondersteuning studeer nie. Sommige studente het nou al aangedui dat hulle klaar hier begin het, maar liewer van Maandag af by Potch en ander plekke gaan studeer. Dit was nog nooit so in die 25 jaar wat ek in die bedryf is nie en ons weet regtig nie wat om te doen nie. Daar is ook die kwessie van bekostigbaarheid en teen die tariewe waarteen privaat losies tans verhuur word, is min studente voorberei op hierdie bykomende uitgawes.”

Intussen sê die US-woordvoerder dat hulle baie streng riglyne het vir die inname van studente en dat hul inskrywingsbeplanning streng gemonitor word. Die US mag nie meer studente inneem as waarvolgens met die departement van hoër onderwys ooreengekom is nie, aangesien die departement van daardie studente subsidieer.

“Ons kan net bespiegel oor die redes hoekom studente vanjaar skynbaar meer privaat losies verkies as voorheen, maar dit is nie omdat ons 5 000 meer studente as vantevore geregistreer het nie. Inderwaarheid dui syfers daarop dat ons tans minder studente geregistreer het as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

“Die US het nie 5 000 meer studente as die vorige jaar ingeneem nie. Ons teikengetal vir 2023 was 5 615 nuwe eerstejaarstudente en vir 2024 was dit 5 716 nuwelinge. Om hierdie getalle te kan akkommodeer, sal twee nuwe koshuise met ongeveer 350 beddens in die tweede kwartaal beskikbaar wees.

“Bekostigbaarheid is ʼn werklike probleem en die NSFAS-perk van R45 000 vir behuising het ʼn wesenlike invloed op die beskikbaarheid van akkommodasie in die privaat sektor. Talle van ons sleutelverskaffers het aangedui dat hulle nie meer NSFAS-studente sal kan bystaan nie.”

Baie eiendomseienaars vereis ook nou vooruitbetaalde deposito‘s om te verseker dat studente die NSFAS-tekorte sal kan dek. US-studente wat in hierdie kategorie val, is meestal diegene sonder akkommodasie en soek die ondergemiddelde blyplekke en kan nie die verwagte tekorte betaal of waarborg nie. Die US het verlede jaar bykans 7 000 privaat beddens geakkrediteer en vanjaar is daar reeds 4 560 gevul. Daar is nou ʼn blyplek in Eersterivier, Solaris Crest, sowat 15 km vanaf Stellenbosch, gekontrakteer waar ʼn bykomende 130 beddens beskikbaar is. Ouers is egter hieroor bekommerd aangesien dit ver van die kampus is en ook sekere veiligheidsrisiko’s kan inhou.

Volgens Martin Viljoen, US-woordvoerder, bly verblyf by hoëronderwysinstellings ʼn nasionale uitdaging. Soos met die meeste universiteite, is koshuisplekke beperk en die US werk saam met private verskaffers om geakkrediteerde akkommodasie aan te bied.

“Nagenoeg 75% van alle US-studente pendel óf bly in privaat akkommodasie. Privaat akkommodasie word nie deur die US geadministreer nie. Daar is egter ʼn akkommodasiekantoor wat help met geakkrediteerde privaat akkommodasie.

“Die US ondersteun studente om geskikte verblyf te vind en sal voortgaan om met die betrokke entiteite, waaronder die Studenteraad en NSFAS, in gesprek te tree wat betref langtermynoplossings vir geskikte huisvesting.

“Ons het vanjaar ongeveer 14 000 aansoeke vir US-koshuisruimtes (eerstejaarstudente) ontvang en kan slegs ongeveer 2 000 eerstejaarstudente in US-koshuise op die Stellenbosch-kampus en 280 eerstejaarstudente op die Tygerberg-kampus inneem. In totaal bied die US nagenoeg 8 000 koshuisbeddens en byna 5 000 privaat geakkrediteerde beddens vir 2024 aan,” het Viljoen gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wildemien ·

Die getalle wat hier rondgegooi word, klop nie mooi nie.
Maar……hier kom alweer ‘n optog met die gepaardgaande nasionale sports van brand en breek.
Ek kry ook ‘n bietjie skaam vir die eiendomseienaars – is dit regtig nodig om SKATRYK te word uit studente akkommodasie?? Ryk is mos goed genoeg.

Republikein in die Wes Kaap ·

Danksy NSFAS wil elke kind studeer. Die universiteite en ander betrokkenes maak lekker geld.

Dahlia ·

Wildemien ek weet nie so mooi van ‘skatryk’ word uit studente akkommodasie nie! Dis duidelik dat jy nie ‘n eienaar is wat akkommodasie uitverhuur op kampus nie. Die eiendoms-belasting is hemelhoog, so ook die levies en dan is daar nog agente kommissie wat maandeliks betaal moet word. Geld moet beskikbaar wees vir onderhoud plus in meeste gevalle is daar nog ‘n verband wat terug betaal moet word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.