Verbod op skuif van beeste geld drie weke

(Argieffoto: Maroela Media)

Daar is tans 116 voorvalle van bek-en-klouseeruitbrekings by voerkrale en op plase in KwaZulu-Natal, Limpopo, Noordwes, Gauteng, Mpumalanga en die Vrystaat en dít het die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling laat besluit om ‘n 21 dae lange verbod op die verskuiwing van beeste landwyd in te stel.

Volgens die departement sal die verbod weekliks hersien word.

Min. Thoko Didiza sê sy neem kennis van die pogings wat boere, gemeenskappe en die landboubedryf aanwend om die onwettige verskuiwing van diere uit gebiede waar die hoogs aansteeklike dieresiekte voorkom, te stuit, sowel as van pogings om bioveiligheidsmaatreëls te verskerp.

“Nietemin versprei die siekte steeds met 15 nuwe eiendomme en nog twee provinsies wat net in die afgelope twee weke geraak is.”

Didiza sê ook sy besef watter groot ontwrigting die verbod in die normale verloop van sake vir talle sektore gaan veroorsaak. Om hierdie rede geld die verbod net vir beeste, hoewel alle gesplete hoefdiere die siekte kan versprei. Die bedryf word dus gewaarsku dat die verskuiwing van hierdie diere met groot waaksaamheid gedoen moet word.

Die departement waarsku ook dat die oortreding van die verbod ʼn strafregtelike misdaad is en ʼn uitsondering vir die verskuiwing van beeste slegs met ʼn permit toegelaat sal word. Dit sluit in ʼn permit vir die direkte slag van beeste by geregistreerde abattoirs, of die slag van beeste vir rituele.

“ʼn Tydperk van 48 uur sal gegun word om toestemming te kry om beeste wat reeds by skoue, veilings of op pad na die republiek is, na hul finale bestemming te verskuif nadat dit verkoop is,” sê Didiza.

Die kantoor van die staatsveearts reik hierdie permitte uit.

Die departement waarsku dat diere wat enige simptome van bek-en-klouseer toon, onder geen omstandighede verskuif moet word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

domheks ·

Mense wat met beeste boer behoort van beter te weet. Wonder of die kleinboere genoeg kennis het van al die siektes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.