Verdagte byna drie jaar later oor plaasaanval aangekeer

Argieffoto: Reint Dykema

ʼn 21-jarige man is byna drie jaar ná ʼn plaasaanval in hegtenis geneem in verband met die moord op Louis van der Berg.

Kapt. Anelisa Feni, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), het gesê Cebo Andile Mgabashe sal na verwagting Donderdag in die Maclear-landdroshof in die Oos-Kaap verskyn.

Hy word beskuldig van die moord op die 76-jarige Van der Berg en poging tot moord op Veronica van der Berg. Hy staan ook tereg op aanklag van diefstal van ʼn vuurwapen, ʼn onbekende bedrag kontant en selfone, het Feni bygevoeg.

Maroela Media het in Oktober 2016 berig vyf mans het die egpaar se plaas, ongeveer 8 km buite Maclear, betree, onder voorwendsel dat hulle beeste wou koop. ʼn Plaaswerker het hulle teëgekom en hulle aan die boer voorgestel. Louis het saam met die mans na ʼn hek op die plaas gestap.

Die plaaswerker het kort daarna gehoor hoe iemand skree en hy het gaan ondersoek instel. Die vyf mans het hom oorrompel en na die plaashuis gedwing, waar hulle Veronica aangerand en die kluissleutels geëis het. Hulle het Veronica en die plaaswerker vasgebind en met ʼn onbekende aantal vuurwapens gevlug.

Die werker kon daarin slaag om homself los te wikkel en het die Van der Bergs se familie gebel, wat op hul beurt die polisie ontbied het.

Louis se liggaam is by die hek gevind. Hy is erg aangerand en met ʼn skerp voorwerp gesteek. Veronica is na ʼn hospitaal gehaas. Sy het die aanval oorleef.

“ʼn Volskaalse soektog is ná die aanval van stapel gestuur,” het Feni gesê. “Die span het verlede Woensdag die eerste deurbraak gemaak toe Mgabashe in Qumbu aangekeer is. Die soektog na die ander verdagtes duur voort.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Essie ·

Dood moet met dood vergeld word so ek staan die doodstraf voor

Jeremia ·

Ons beleef die afgelope jare dat die wiele van die gereg ekstra stadig aan die gang kom om enigsins die moeite te doen om te draai.
Die afloop van moordsake krink dikwels in ook baie koddige rigtings. Hier dink ek bv. aan die Diwani-sage.

Cherokee ·

En daar is dit, die gewone vervelige ‘daar sal niks van kom nie’. Waarom lees jy enigsins die nuus as jy dit vooruit ken? Ek is beïndruk dat die soektog solank aanhou dat hy byna 3 jaar later vasgetrek is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.