Verdagte hoor oor borgtog na ‘sluipmoord’ op Valke-speurder

Kol. Leroy Bruwer (Foto:WCFF via Twitter)

Die aansoek om borgtog vir die 28-jarige verdagte wat verbind word met die moord vroeër vanjaar op lt.kol. Leroy Bruwer (49), ’n speurder van die Valke, is Dinsdag geweier. Sinovuyo Selale het vir die soveelste keer vanjaar in die Nelspruit-landdroshof verskyn.

Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Mpumalanga, sê die saak teen Selale is uitgestel vir verdere ondersoek en hy sal na verwagting weer op 3 November in die hof verskyn. Hy bly intussen in aanhouding.

Selale het homself in Junie by die Tsolo-polisiestasie in die Oos-Kaap in verband met die moord op Bruwer oorgegee. Hy is daarna na Nelspruit oorgeplaas.

Maroela Media het vroeër berig Bruwer is in sy motor buite Nelspruit met ’n aanvalsgeweer doodgeskiet. Bruwer was omstreeks 06:20 van sy huis af op pad Nelspruit toe vir ’n hofsaak. Bruwer het op ’n kleinhoewe op die R37 buite Nelspruit gebly.

Die Valke se woordvoerder, Hangwani Mulaudzi, het vroeër bevestig die moontlikheid dat dit wel ’n sluipmoord was, kan nie uitgeskakel word nie.

Bruwer het verskeie hoëprofielsake ondersoek, waaronder transitorooftogte, georganiseerde misdaad en renosterstroopsindikate. Hy was veral ’n belangrike ondersoeker in die stryd teen renosterstropery.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jakes ·

Wonder hoeveel hy betaal is om die afskuwelike daad te pleeg?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.