Verdagte in polisiekaptein se moord nog voortvlugtig

Blessing Fakude (Foto verskaf deur die Valke)

ʼn Lasbrief is deur die Kabokweni-landdroshof uitgereik vir die inhegtenisneming van die voortvlugtige Blessing Fakude. Hy word daarvan verdink dat hy betrokke was in die moord op ʼn polisiebeampte, kapt. Sibusiso Mthombothi (44).

Mthombothi is op 13 Januarie 2024 dood tydens ʼn skietery by ʼn motorwassery in Kanyamazane, Mpumalanga.

Een verdagte, Jacky Sibusiso Ntiwane (Maseko) (35) is reeds in hegtenis geneem deur die Valke se eenheid in Nelspruit wat ernstige georganiseerde misdaad ondersoek.

“ʼn Span van Nelspruit-misdaadintelligensie, die provinsiale spoorspan en die taktiesereaksie-eenheid het hul lewens op die spel geplaas om die oggend van 20 Maart 2024 die beskuldigde se huis om 02:00 te nader,” sê kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke). “Hy is in ʼn hoek gedryf en in hegtenis geneem.”

Maseko het al ʼn paar keer in die hof verskyn. Hy het sy aansoek om borgtog laat vaar vir sy eie veiligheid. Die saak is tot 10 Mei uitgestel vir verdere ondersoek. Hy bly in aanhouding.

Genl.maj. Nico Gerber, provinsiale hoof van die Valke, maan Fakude om na vore te kom en doen ʼn beroep op die gemeenskap om inligting te verskaf oor waar hy hom bevind. Maak kontak met kapt. Mduduzi Comfort Mkhonza by 082 304 0052 of lt.kol. Erhard Stroh by 082 300 8315. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

Maroela Media het vroeër berig dat Mthombothi op die noodlottige dag saam met ʼn polisiesersant na ʼn motorwassery in Kanyamazane gegaan het om sy private motor te laat was. Die polisiebeamptes het hul beurt afgewag, maar volgens die Valke se ondersoek het die bestuurder van ʼn ander motor in ʼn stadium die polisiekaptein se geparkeerde motor gestamp. Die kaptein en die bestuurder van die ander motor het glo ooreengekom dat die bestuurder van die ander motor R5 000 aan Mthombothi sal betaal om die skade aan sy motor te dek.

Die polisiesersant het die verdagte se motor na Mthombothi se ouerhuis geneem waar die motor glo sou staan totdat die polisiekaptein die geld vir die herstelwerk ontvang het. ʼn Stryery tussen Mthombothi en die verdagte het ontstaan terwyl die sersant weg was. ʼn Skoot is afgevuur en die sersant het met sy terugkeer op sy gewonde kollega afgekom. Mthombothi is kort daarna dood en die aanvallers het gevlug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Danie ·

N mens wonder maar net waarom so baie polisiemanne vermoor word.Dalk raak die kompetisie te veel.

Cassie Carstens ·

Suid Afrika is beslis nou die Wilde Qeste, veral as iemand ‘n polisie beampte so maklik kan skiet sonder vrees. Hulle weet hulle sal niks oorkom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.