Verdagte vas na moord op Amalia-boer

Coen van der Walt, plaasmoord, Amalia, Noordwes

Wyle Coen van der Walt (67). (Foto: Verskaf)

ʼn Verdagte is Saterdagoggend in hegtenis geneem in verband met die moord op Coen van der Walt (67) op Oukersdag op ʼn plaas buite Amalia in Noordwes.

Die 52-jarige verdagte is in Schweizer-Reneke in hegtenis geneem, het lt.kol. Amanda Funani, provinsiale polisiewoordvoerder, bevestig. “Hy sal na verwagting Dinsdag in die Schweizer-Reneke-landdroshof verskyn.”

Maroela Media het vroeër berig Van der Walt en sy vriendin, Linda Thomas, is in hul plaashuis buite Amalia oorval pas nadat hulle inkopies in Schweizer-Reneke gedoen het. Die verdagte het geld van die paartjie geëis.

Frieda van Rooyen, Van der Walt se dogter, het gesê die verdagte het deur die dak van die huis ingebreek. “Hy het hulle ingewag in die huis,” sê Frieda.

Neil van der Walt, Frieda se broer, sê hy vermoed die verdagte het ingebreek omdat hy gedink het die huis staan leeg vir die vakansie. Sy pa het op die plaas gewoon en as voorman vir die eienaar gewerk.

Die verdagte het in die tyd die huis deursoek en op Coen se vuurwapen afgekom.

Van der Walt en Thomas het pas teruggekeer toe Thomas glo eerste die huis binne is en oorval en vasgebind is. Hierna het Van der Walt gevolg. ʼn Struweling het ontstaan ná Van der Walt hom teëgesit het toe die verdagte hom probeer vasbind het.

In die proses is Van der Walt eers in die ribbes geskiet en daarna in die kop. Die verdagte het hierna op die vlug geslaan en Thomas het hulp ontbied.

Van der Walt se voertuig, twee selfone en ʼn onbekende bedrag geld en die vuurwapen is gesteel.

Die voertuig is later verlate in die Ipelegeng- informele nedersetting buite Schweizer-Reneke gevind.

Van der Walt word oorleef deur sy drie kinders, Neil, Frieda en Etienne. Hy sal veras word waarna daar op 5 Januarie ʼn roudiens gehou sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.