Verdediging bevraagteken polisie se getuienis

Sithembiso Hlongwane (regs) en Stanley Lingena (links) (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die verdediging in die moordsaak van Annie Liebenberg (62) en haar lewensmaat, Michael Zantow (64), het ao. Freddie Nel se geloofwaardigheid bevraagteken nadat hy Donderdag op die laaste minuut deur die staat as getuie geroep is. Die verdagtes beweer boonop nou dat dit Nél is wat hulle op die toneel aangerand het.

Nel was by toe Stanley Lingena (38) en Sithembiso Hlongwane (28) op 23 Augustus verlede jaar by hul huise vir die moord op Liebenberg en Zantow in hegtenis geneem is.

Hy was ook op die moordtonele – Lategan- en Watersonstraat in Sasolburg in die Vrystaat – saam met die ondersoekbeampte, sers. Chrissie van der Linde, wat vroeër in die saak getuig het.

Die twee beskuldigdes se regsverteenwoordigers het Vrydag tydens kruisondervraging daarop gehamer dat Nel nie ʼn geloofwaardige getuie is nie omdat daar baie inligting in sy verklaring ontbreek.

“Die getuie kan nie eens onthou watter items alles in die beskuldigdes se huise gekry is nie. Hy kan ook nie vir die hof sê wat Van der Linde alles vir die beskuldigdes die dag van hul inhegtenisneming gesê het nie,” het Hlongwane se regsverteenwoordiger, Terrence Mogwera, gesê.

Luidens die klagstaat is altesaam 70 items in die oorledenes se huis in Watersonstraat in Sasolburg gebuit. Baie van hierdie items is in die beskuldigdes se huise gevind.

In antwoord hierop het Nel gesê dat hy die verklaring geskryf het gebaseer op die inligting in sy kop en dat hy nie ʼn sakboek met notas besit nie.

Hierop het die verdediging geïnsinueer dat hy dalk “hulp” gehad het met die opstel van die verklaring, maar hierdie stelling is deur die hof uitgegooi.

Lingena se regsverteenwoordiger, adv. Phineas Mokoena, het Nel gevra waarom hy as ervare polisiebeampte nie daaraan gedink het om reeds verlede jaar ʼn verklaring te maak nie.

“Van der Linde het dit nie van my vereis nie en sy moet besluit wie verklarings aflê omdat sy die ondersoekbeampte is,” het Nel geantwoord.

“Maar jy as haar senior weet mos sy maak dalk ʼn fout om jou nie vir ʼn verklaring te vra nie?” het Mokoena gevra.

“Dan was dit my fout en ek vra om verskoning,” het Nel gesê.

‘Getuie het ons aangerand’

Annie en Michael was smoorverlief. (Foto: Verskaf)

Hlongwane en Lingena beweer hulle is deur polisiebeamptes aangerand by hul huise in Zamdela, by een van die moordtonele in Lateganstraat in Sasolburg, en toe later in die aanhoudingselle in Zamdela.

Van der Linde het getuig dat hierdie aantygings nie waar is nie. Staatsaanklaer adv. Antoinette Ferreira het daarom vir Nel as getuie ingeroep om Van der Linde se weergawe te staaf.

Nel het ook die bewerings van aanranding ontken. Hierop het Mogwera gesê “as die getuie nie eers kan onthou watter items in die huis teruggevind is nie, hoe kan hy nog onthou of iemand aangerand is”.

Nel het volgehou hy was heeltyd op die toneel en het geen aanrandings sien plaasvind nie.

Die verdediging het toe Vrydag verder gegaan deur te sê dat dit Nél was wat hul kliënte na bewering aangerand het.

Volgens Mogwera beweer Hlongwane dat Nel hom die middag van 23 Augustus in die polisieselle kom aanrand het deur hom aan sy private dele te gryp. Hy het glo ook vir hom gesê dat “die staat hulpbronne op hom (Hlongwane) mors omdat hy nie eers ʼn verklaring wou aflê nie”.

Nel het die bewerings ontken en gesê dat hy die beskuldigdes die laaste keer by hul huise en op die moordtoneel gesien het.

Nel het later tydens herondervraging deur Ferreira gesê die aanhoudingselle beskik oor ʼn register van wie die selle besoek, wat sy onskuld sal bewys.

“In elk geval sal die polisiebeampte wat by die selle aan diens is nie iemand sommer in die selle toelaat om iemand aan te rand nie,” het Nel gesê.

Lingena het ook beweer dat Nel hom in die selle aangerand het.

Volgens Mokoena beweer Lingena ook hy is by Lateganstraat met ʼn swart pyp geslaan en deur polisiebeamptes geskop. Hy beweer ook dat die polisie toe ʼn swart sak oor sy kop en nek gesit en hom probeer versmoor het.

“My kliënt sê hy het nie vir Nel gesien ten tyde van sy aanranding nie, hoewel Nel getuig het dat hy ten alle tye op die toneel was?” het Mokoena gevra.

“Ek kan jou verseker ek was op die toneel,” het Nel gesê.

Die saak is uitgestel tot 6 tot 10 Maart 2023.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Danie ·

Dis normaal om getuienis te bevraagteken.Moet net nie uitgevang word om onder eed te lieg nie.Die twee gaan sit die vraag is net die vonnis?

My siening ·

Dit so nie skade gewees het as hulle goed gedon was want die land moor jy en na n paar jaar is jy weer vry en die victim’s nooit vry!

Casper ·

Van die oorledenes se besittings is in beide die verdagtes se huise gekry,waar het hulle dit gekry.Wie word verhoor Nel of die beskuldigdes.

Anel ·

As hulle kwansuis aangerand is hoekom het hulle nie toe gekla nie? Geen mens kan 70 items na ‘n jaar onthou nie! Maar daar neem ek die polisieman kwalik. Jy maak ‘n plan om ‘n sakboekie te hê. As die staat nie vir jou een het nie dan gaan koop jy ‘n gewone swart boekie. Maar jy is nooit, maar nooit sonder een nie. En jy gebruik vir hom. Daardie boekie het al hoeveel polisieman gehelp. En jy het die reg om dit na te slaan in die hof. Jare terug het my boekie my ook baie gehelp. Geen mens kan altyd alles onthou wat op ‘n toneel is nie. En op hoeveel tonele kom polisieman nie deesdae nie? Maar nou ja, beskuldigdes sal enigiets sê om onskuldig te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.