Verdoemende verslag oor Limpopo-water uitgereik

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Waterdienste-owerhede in Limpopo het versuim om aan die basiese wetgewing oor waterdienste te voldoen en daarom het almal in die provinsie nie voldoende toegang tot water nie.

Só het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) in ’n ondersoek bevind wat hy gedoen het ná verskeie klagtes wat verband hou met onvoldoende toegang tot water in verskeie distrikte in Limpopo.

Wisani Baloyi, woordvoerder van die SAMRK, sê die ondersoek het gefokus op gemeenskappe se toegang tot water asook die doeltreffendheid van waterdienste-owerhede om water te voorsien.

Die kommissie het Maandag die verslag van sy ondersoek bekend gemaak en daar is bevind dat munisipaliteite reg oor die provinsie sukkel om water aan gemeenskappe te voorsien.

“In die verslag het die SAMRK in hoofsaak bevind dat die meeste van die waterdienste-owerhede versuim om aan die Wet op Waterdienste 108 van 1997 te voldoen. Die dienste voldoen ook nie aan verpligte nasionale standaarde en maatreëls om water te bespaar nie,” sê Baloyi.

“Die ondersoek het verder bevind dat die volgende faktore tot die onderliggende oorsake van wateruitdagings in die provinsie bydra: gebrek aan voldoende vaardighede van waterdienste-owerhede, gebrek aan beplanning, en gebrek aan behoorlike uitvoering van pligte soos vereis deur die Wet op Waterdienste.

“Die verslag beklemtoon ook hoe waterdienste-owerhede versuim om toelaes wat aan hulle toegeken is voldoende te bestee, en hoe toesigliggame soos die departement van water en sanitasie en die departement van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake versuim om daardie munisipaliteite te vervolg wat nie in staat is om water aan kwesbare gemeenskappe te voorsien nie.”

Die verslag bevat 26 aanbevelings gerig aan al tien waterdienste-owerhede in Limpopo, sowel as die oorsigliggame in die provinsie soos die departement van water en sanitasie, die departement van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake en die kantoor van die premier.

Die SAMRK het reeds hierdie verslag by die provinsiale wetgewer se portefeuljekomitee oor samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake voorgelê. Die SAMRK beoog om die implementering van sy aanbevelings noukeurig te monitor om te verseker dat die reg op toegang tot water in Limpopo vir almal ’n realiteit word.

“Dit is belangrik vir munisipaliteite wat as waterdiensowerhede aangestel word om hul deurslaggewende en direkte rol te vervul om almal, veral kwesbare gemeenskappe, van toegang tot water te voorsien. Hierdie plig kan nie oorbeklemtoon word in die konteks waar Suid-Afrika ’n waterskaars land is wat onder die 30 droogste lande ter wêreld geklassifiseer word nie.”

Lees die volledige verslag hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pietertjie ·

Ondersoek gedoen, verslag vrygestel, en “daar lê die ding”. Soos met talle vorige ondersoeke en verslae. Wat het van die Zondo-verslag geword?

Jack ·

Ja niks wat ons nie weet nie.Ook nou bietjie te laat.Niks gaan in die provinsie verander solank die ANC die sweep klap nie.Hulle maak net soos hulle wil ten koste van die mense.

marius ·

Jare terug gewaarsku maar toe word dit afgelag . Treurige spul vergrypers !

domheks ·

Ondersoek ten duurste gedoen (werkskepping) Gratis Water/Behuising/Elektrisiteit/Spoel toilette is belowe! Maar as daar nie water is nie, kan niks gedoen word nie

George ·

Dis hoekom in Mokopane Riool water in die strate af loop in by storm water dryne wat af loop nyl rivier toe en alles vergiftig met rou riool in n rivier in . Kry mense wat die werk wil en kan doen .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.