Verhoogde koste kniehalter boere

(Foto verskaf deur die DA)

Die Demokratiese Alliansie het ʼn oorsigtelike besoek afgelê aan Addo en Kirkwood in die Oos-Kaap om die omvang te bepaal van uitdagings wat deur boere in die gesig gestaar word.

“Inligting is ontvang dat boere hul sitrusvrugte stort weens verhoogde koste en ander faktore, terwyl tonne vrugte aan die bome nog gepluk moet word,” sê Noko Masipa, die DA se skaduminister van gesondheid, grondhervorming en landelike ontwikkeling.

“Die veranderlike boerderykoste en ander faktore wat tot die storting van onder andere sitrusvrugte lei, sluit in die koste van vervaardiging, vervoer en arbeid en die gebrek aan toegang tot die mark.”

Masipa sê die lang en onnodige staking deur die werkers, onder leiding van Sanco vroeër vanjaar, het skade van ongeveer R500 miljoen aan infrastruktuur berokken en bygedra tot die huidige uitdagings.

“Dorpe soos Kirkwood en Addo maak grootliks staat op die sitrusboer-ekonomie en word nou deur ʼn droewige ekonomiese vooruitsig en grootskaalse werksverliese in die gesig gestaar.”

(Foto verskaf deur die DA)

Ondanks dié uitdagings het die departement van landbou versuim om die situasie te takel. “Die departement is bewus van die uitdagings, maar het versuim om voorsiening te maak vir hierdie tipe ramp of toekomstige kommersiële vooruitsigte.”

Boere het ook die gebrek aan marktoegang in die VSA bekla. Die VSA het in die verlede sitrus van Suid-Afrika geweier weens ʼn fungus genaamd Guignardia citricarpa. “Nou is daar ook gevalle [van dié fungus] in Kalifornië en Florida. Ná die bedryf die gaping in 2017 raakgesien het, het hulle met die departement saamgewerk en protokol-onderhandelingsdokumente voorberei. Tot dusver het die bedryf egter nog nie enige terugvoer ontvang nie.”

Alhoewel die departement op hoogte gehou is wat betref die toename in die aanplant van sitrus in die land, het die departement nie sy pogings verskerp om nuwe protokol vir marktoegang af te handel nie.

“Die huidige vragkoste en brandstofpryse het dit ook nie ekonomies regverdig om vrugte na die mark te vervoer nie. Boere het dus besluit om eerder die vrugte te stort. Alhoewel die koste om die vrugte te pluk, bemestingskoste, brandstofkoste en vragkoste verdubbel het, het die prys vir sitrusvrugte halveer.”

Die DA benadruk sy versoek aan die regering om brandstofheffings te verminder en die las op die koste van voedselvervaardiging te verlig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Christine ·

As al hierdie verhogings en uitvoer-kansellasies van die VSA nie pogings is om ons boere te laat faal nie, dan eet ek my hoed op. Skaars het ons media twee jaar terug berig hoe suksesvol ons sitrusboere is, toe begin die stakings, oproere, prysverhogings en toe allerhande voorwaardes van internasionale invoerders van ons sitrusbedryf., om nie te praat van die onvermoë om te help deur ons regering nie! Dit als net per toeval? Moenie glo nie!

vuurvliegie ·

Die buiteland kry al die prima produkte en ons landsburgers kry die rejects.
Hoekom wil boere nog regerings hulp hê? Boere kan BTW terugeis, kry goedkoop krag, goedkoop diesel, ens. Tyd vir bakhandtjie staan is verby in SA.

Christine ·

As jy dit als glo, is jy gebrainwash!!!! Ek stem saam met prima produkte wat uitgevoer word.

MARELIZE ·

Ekskuus???? Kom boer net vir 12 maande saam. Net vir 1 jaar. Toe, kom.

vuurvliegie ·

Miljoene mense sal dit met twee hande aangryp. Kan btw terugeis, goedkoop krag, min grondbelasting, betaal werkers min loon, ens. Koop vir mama elke jaar n nuwe Prado om minder belasting te betaal. Binne een jaar is jou bankbalans met baie nulle ryker. Ek kan nog aangaan

Manie ·

Daar is gereeld regoor die wêreld met alle vrugte ‘n ooraanbod. Dit sal vir ‘n paar jaar redelik goed gaan, totdat die mark versadig word hoe meer boere toetree tot ‘n betrokke mark, dan val die pryse tot so ‘n mate dat dit nie meer ekonomies volhoubaar is nie.

Stephen ·

I am prepared to give my life savings to anyone who can prove that the dysfunctional ANC Government had one single economic success anywhere in SA since they came to power.
Any takers??

marius ·

Dis nie net boere nie . Gewone mense is plat teen die grond .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.