Verhoor begin teen eienaars van Enyobeni-taverne

Leë kiste is destyds by die gedenkdiens vir die slagoffers van die Enyobeni-taverne-tragedie uitgelê. (Foto: Phill Magakoe / AFP)

Die verhoor teen die eienaars van die Enyobeni-taverne in Oos-Londen waar 21 tieners in Julie verlede jaar onder raaiselagtige omstandighede gesterf het, het Dinsdag begin.

Die eerste staatsgetuie in die saak teen die egpaar Vuyokazi en Siyakhangela Ndevu het vandag in die getuiebank verskyn.

Dié getuie, Mncedisi Khwinana (67), se huis is ʼn klipgooi van die taverne af geleë. Sy getuienis is deur die senior advokaat Thango Pangalela gelei en hy is later deur die egpaar se advokaat onder kruisverhoor geneem. Die saak is tot 23 en 24 Mei uitgestel wanneer nog staatsgetuies geroep sal word.

Die Ndevu’s word daarvan beskuldig dat hulle drank aan mense jonger as 18 jaar verkoop het. Hulle word ook daarvan beskuldig dat hulle met werknemers saamgesweer het om wederregtelik drank aan minderjariges te verkoop.

Hulle ontken skuld op albei aanklagte.

Die Enyobeni-taverne in Scenery Park, Oos-Londen. (Foto: Twitter)

Die saak rakende die 21 tieners se dood word nog ondersoek onder leiding van die aanklaer.

“Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) beskou hierdie [tweede] saak in ʼn baie ernstige lig en het senior aanklaers toegewys om die ondersoeke te lei soos die Grondwet bepaal en om te verseker dat die nodige bewyse verkry word sodat diegene wat strafregtelik verantwoordbaar is vir die tragedie vervolg kan word, en met die volle mag van die wet te doen kry,” het Luxolo Tyali, woordvoerder van die NVG, gesê.

“Die familielede van die jong kinders, van wie sommiges minderjarig was, asook die geraakte gemeenskap en Suid-Afrikaners in die algemeen is angstig om te sien dat geregtigheid geskied vir hierdie kinders wat onder sulke tragiese omstandighede gesterf het.”

Tyali sê die NVG is daartoe verbind om die slagoffers eerste te stel in hierdie saak ter wille van geregtigheid vir die mees kwesbare mense in die samelewing – veral vroue en kinders.

“Die NVG sal voortgaan om die families van die oorledenes op hoogte te hou van enige nuwe verwikkelinge en openbare aankondigings. Enige besluit rakende die saak sal eers bekendgemaak word sodra die betrokke familielede in kennis gestel is.”

Maroela Media het vroeër berig dat die kinders glo versmoor het omdat die taverne oorvol was. Dit is deur die Oos-Kaapse departement van gesondheid aan die kinders se ouers meegedeel. Hulle is egter toegang tot die toksikologieverslag geweier.

Altesame 17 tieners is in die taverne dood en nog vier op pad na hospitale nadat hulle simptome soos ʼn toegetrekte bors, braking en kopseer begin ondervind het. Die kinders was almal tussen 13 en 17 jaar oud.

Die owerhede het in Julie verlede jaar gesê daar was klaarblyklik metanol en alkohol in die oorledenes se bloedstroom ten tyde van hul dood. Daar is bygevoeg dat daar nog nie afdoende bewyse oor die presiese oorsaak van die tieners se dood is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lillian ·

Hoekom dié eienaar verantwoordelik hou as die minderjariges reeds gesuip by die taverne opgedaag het van drank wat hul gedrink het vroeër die aand? Dis mos bewys in die nadoodse ondersoeke.

Rooikopheks ·

Hoe laat jy jou 13 tot 17 minderjarige kinders net rondloop in die nag om drinkhole te besoek. Hierdie kinders se ouers is eerste die skuldiges, hulle het toegelaat dat die kinders kom en gaan soos hulle wil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.