Verkeersbeampte deur spoedvraat doodgery

Foto: Werner Beukes/SAPA

ʼn Beampte van Ekurhuleni se metropolisie (EMPD) het Sondag aan sy beserings beswyk, nadat hy deur ʼn jaagduiwel by die Gillooly-wisselaar in Johannesburg raakgery is.

“Die voorval het Sondag kort ná 09:30 plaasgevind toe die lid sy wetstoepassingspligte op die R24/N3 by die Gillooly-wisselaar uitgevoer het. Die beampte het probeer om die bestuurder van ʼn VW Polo in die linkerbaan van die snelweg af te trek, aangesien die bestuurder die spoedgrens oorskry het. Die bestuurder het versuim om stil te hou en die beampte omgery,” het lt.kol. Kelebogile Thepa, woordvoerder van die EMPD, in ʼn verklaring gesê.

Die beampte se kollegas het die voertuig agternagesit en die bestuurder in die omgewing van Johannesburg se middestad vasgetrek. Die bestuurder is deur die Bedfordview-polisie in hegtenis geneem en is tans in aanhouding. Hy sal aangekla word van strafbare manslag, roekelose en nalatige bestuur en vlug vanaf ʼn ongelukstoneel.

Die departement het intussen sy hartseer oor die afsterwe van een van sy beamptes uitgespreek. “Hy was ʼn jong, energieke en hardwerkende beampte, wie se energie en jeugdigheid sy kollegas altyd laat glimlag het. Ons hoop dat geregtigheid sal geskied. Dit sal nie ons gestorwe kollega terugbring nie, maar sal ons beslis troos,” het Thepa gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elize ·

Hierdie “wetstoepassers” het die gewoonte om net skielik voor jou in te spring om jou te stop. Genade dat nie meer doodgery word nie

Marcello ·

Stem 100% saam, ek het ookal amper ‘n beampte raakgery.

Lillian ·

Paar jaar gelede is ‘n beampte dood gery op Paul Kruger, Springs, die bestuurder het basies skotvry daarvan af gekom.
Beamptes moet hierdie gewoonte stop, meer gaan nog hul lewens verloor.

JM ·

Het twee jaar gelede op N4 teen die toelaatbare 120 km/u gery, toe ‘n verkeersbeampte skielik reg voor ons motor verskyn en wys dat ons moet aftrek. Ons het die man naelskraap gemis en byna die voertuig omgegooi.

Skappie ·

Sterkte aan sy gesin en vriende. Mag onse Liewe Heer hulle styf in sy arms vashou in hierdie moeilike tyd wat voor le.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.