Verkeersbeampte kry op sy neus oor omkoopgeld

(Argieffoto)

’n Voormalige verkeersbeampte van Mpumalanga sê hy is onregverdig afgedank nadat hy omkoopgeld van R200 van ’n motoris aanvaar het.

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) stem egter nie saam nie en het sy appèl teen sy afdanking verlede week van die hand gewys.

Volgens Simon Zwane, woordvoerder van die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC), is Gift Hleza in Januarie 2020 afgedank nadat hy deur geheime teenkorrupsie-agente betrap is dat hy omkoopgeld aanvaar het. Sy verweer is dat hy dors was en koeldrank wou koop.

Die voorval het tydens ’n spoedoperasie op die pad tussen Mkhondo en Ermelo gebeur. Hleza was ’n verkeersbeampte betrokke by die Msukaligwa (Ermelo)- plaaslike munisipaliteit.

“Nadat Hleza betrap is dat hy omkoopgeld van ’n motoris ontvang het, is hy in hegtenis geneem en op borgtog van R1 500 vrygelaat, hangende die afhandeling van sy verhoor,” sê Zwane.

Ná sy afdanking het Hleza die KVBA genader en gesê hy is onbillik ontslaan.

“Volgens Hleza wou hy koeldrank hê om sy dors te les aangesien dit volgens hom ’n warm dag was. Die kommissaris van die KVBA het Donderdag tydens ’n arbitrasietoekenningsgeleentheid gesê hy sukkel om Hleza se weergawe te glo. Hy het gesê die enigste afleiding wat gemaak kan word, is dat Hleza ’n vorm van betaling wou hê. Die kommissie het toe bevind dat Hleza se afdanking billik was.”

In dieselfde week is twee ander mense gevonnis vir korrupsie wat verband hou met verkeersake.

Volgens Zwane is ’n Vrystaatse bestuursinstrukteur Teboho Ernest Mosia (45) Donderdag in die streekhof in Bethlehem tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis vir die aanvaarding van omkoopgeld van R5 500. Die omkoopgeld was in ruil daarvoor dat hy ’n swaarvoertuig-rybewys vir ’n motoris moes reël.

Mosia het met die geld verdwyn en versuim om die rybewys af te lewer. Mosia sal egter net ’n paar maande in die tronk deurbring nadat ’n groot deel van sy vonnis vir vier jaar opgeskort is.

In ’n aparte saak is ’n voormalige verkeersbeampte van Mpumalanga, Meshack Masenjwa (37), in die streekhof in Middelburg skuldig bevind en tot vyf jaar direkte tronkstraf gevonnis vir die aanvaarding van omkoopgeld van R100.

“RTMC glo dat hierdie besluite die pogings van die korrupsiebestrydingsagente sal aanspoor om meer beamptes wat betrokke is by omkopery, korrupsie en bedrog in die verkeerswetstoepassingsektor te identifiseer en in hegtenis te neem.”

Lede van die publiek word versoek om betrokke te raak by die veldtog teen korrupsie deur die verdagte voorvalle aan te meld deur ’n WhatsApp-boodskap na 083 293 7989 of e-pos na [email protected]  te stuur.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

domheks ·

Tronkstraf help nie! Sit ‘n tydjie en dan maar weer op straat. Ons tronke is 5-ster behandeling, en ons moet die goed nog onderhou ook!

Frank ·

5 jaar vir R5500 omkoopgeld, groot deel opgeskort, terwyl ander een 5 jaar is vir R100. Behoort eerder omgeruil te wees maar wys net hoe vrot die regstelsel geword het en deesdae eerder verkeerdstelsel genoem moet word

Tipper ·

Ek dink dis regverdig, hoeveel kom intussen weg met bribes, so ja have a good one.

SjN ·

Vermetelheid om nog na ccma te hardloop, wou koeldrank koop, kry hy nie n salaris nie, dit was ook nie die eerste keer dat hy omkoopgeld aanvaar het nie, daar is sy hele loopbaan weg vir R200.

Christine ·

Ja, netso, sommiges wil als verniet hê, maar ons weet die koeldrank-storie is ‘n leuen.

BOKKIEBEK ·

Enige omkoop van ‘n verkeersbeampte is SO verkeerd. Ek dink altyd, as daardie persoon wat voorgekeer is, onder die invloed is, of vir spoed afgetrek is…en hy word laat gaan deur om te koop, is jy en jou gesin of jou kind dalk volgende in die ongeluk wat mag plaasvind…indien hulle op die pad toegelaat word…

Herman L ·

Afgedank vir R200, maar skynbaar nie strafregterlik vervolg nie. Nog een kry tronkstraf van vyf jaar vir R100. Hoe kan dit verklaar word? Die gewone verweer is dat omstandighede vir elke saak uniek is. Werklik?

Mariana ·

En so kos daai R200 vir “koeldrank” hom toe sy werk. Hy moet gaan sit en dink of dit nou alles die moeite werd was, maar ja ook geen denkvermoë nie. Dis waarskynlik ook nie die eerste R200 wat hy so kry nie.

Pierre ·

Skryf maar jou kartjie ek betaal nie n sent onkoop gelde nie.

Danie ·

Ek stem 100% saam dheks omkoop geld of dors ,honger wat ook al waar trek jy die lyn.Die tipe sake is n kopseer en is al deur en deur bewys dat die personeel korrupt is.Polisiemanne wat hul werk doen word ontslaan maar die wat mekaar beskerm loop los rond.Daar is nie meer n stelsel wat nie korrup is nie.

Kirst ·

“It takes two to tango.” As niemand omkoopgeld aanbied nie, of weier om te betaal as dit vesoek word, kan niemand omkoopgeld aanvaar nie.

Wielspore ·

Sommige bestuurskole het ‘n paar dae terug by die Nelspruit verkeers departement ‘n optog gehou omdat toetsbeamptes vir bestuur lisensies hulle omkoop geld vanaf R1500 tot R2000 verhoog het. Die verhoging is meer as inflasie.
Waar gaan ons land heen?

Christine ·

Die vermetelheid om omkoopgeld te vra vir bestuurslisensies!!!

Johan ·

n Ou moet seker baie dors wees as jy R200 nodig het om dit te les. My ma het altyd vir ons gesê, “as jy dors is, drink water.”

LIEZL ·

Die omkoper is net so skuldig soos die een wat dit aanvaar het. SIES vir julle wat dit in die eerste plek oorweeg het om iemand om te koop oor iets wat jy verkeerd gedoen het.

Nierkie ·

Die hoeveelheid opkoopgeld moet geen rol speel nie, jy moet afgedank word al was dit net ‘n blikkie koeldrank.

Christine ·

Netso, dit gaan om etiese werk te verrig. ‘n Konsep wat baie glad nie verstaan nie.

Lillian ·

En as hy nou ‘n paar maande gesit het in die tronk, gaan hy terug werk toe?

Roek ·

Water my maat water, , Ai tog dit is een van die belaglikste veskonings wat ek al ooit gehoor het maar die feit dat hy na die KBA toe gegaan het wys net die önskuld”van die mens se optredes !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.