Verkeersinspekteur in lokval gelei, doodgeskiet

Argieffoto bloot ter illustrasie. 

’n Inspekteur van die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) is dood nadat hy Maandag in die vroeë oggendure van sy dienspistool beroof en verskeie kere geskiet is.

’n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die inspekteur in ’n ongemerkte raadsvoertuig gery het toe hy in ’n lokval in Ivory Park gelei en aangeval is.

Hoofsuperintendent Kelebogile Thepa, woordvoerder van die EMPD, het nie die identiteit van die inspekteur bekend gemaak nie, maar wel in ’n verklaring gesê hy was “’n nederige, hardwerkende persoon wat veelsydig in wetstoepassing was”.

“Hy het verstaan ​​wat dienslewering behels, aangesien hy ook gehelp het om misdaad te bekamp.”

Thepa sê niemand is nog in hegtenis geneem nie en ’n saak van moord is by die polisiestasie in Ivory Park aanhangig gemaak.

Jabulani Mapiyeye, die hoof van die metropolisie, het intussen gesê die EMPD is diep bedroef deur die inspekteur se afsterwe en het sy medelye met die naasbestaandes betuig.

Mapiyeye het voorts ’n beroep op lede van die gemeenskap gedoen om met inligting na vore te kom wat tot die aankeer van die moordenaar(s) kan lei.

Inligting kan by die polisiestasie in Ivory Park, enige EMPD-kantoor of Stop Misdaad by 08600 10111 aangemeld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Casper ·

Medelye gaan nie kos op sy familie se tafel plaas nie en ook nie sy kinders se skoolgeld en klere betaal nie.

Zombie ·

@Casper, ek dink dit sal ń mooi gebaar wees as jy met ń insamelingsveldtog vir die agtergeblewe gesinslede gaan begin.

Di ·

Hier sal nooit iets aan hierdie misdade in die land gedoen word alvorens een van die Parlementslede se eie mense deur geweld geraak word nie!

Jr ·

WHY WHY?????? . These people never stop. Round and round and nothing ever happens to them

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.