‘Verklaar afsonderingsregulasies ongeldig tot ná appèlproses’ – LFN

Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma. (Foto: GCIS)

Die drukgroep wat die regering se afsonderingsregulasies in Junie ongeldig en ongrondwetlik laat verklaar het, vra nou in hofstukke dat dié uitspraak van regter Norman Davis van krag bly totdat die regering se aansoek om appѐl aangehoor word.

Maroela Media het vroeër berig die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, het die appèlhof vroeër vandeesmaand vir toestemming gevra om te appelleer teen Davis se hooggeregshofuitspraak, waarin ses van die regering se afsonderingsregulasies irrasioneel verklaar is. Die Liberty Fighters Network (LFN) en sy president en stigter, Reyno de Beer, het Dlamini-Zuma hof toe gesleep oor die regulasies.

Davis het die minister aanvanklik tien dae kans gegee om sommige van die vlak 3-regulasies te wysig, ná sy beslissing in Junie dat die regulasies ongrondwetlik is. Dlamini-Zuma het egter by die hooggeregshof teen dié uitspraak geappelleer, wat beteken dat die regulasies van krag bly, hangende die uitkoms van die appѐl. Davis het egter ʼn tweede keer in die guns van die LFN bevind, waarna Dlamini-Zuma die appѐlhof in Bloemfontein genader het om verlof tot appѐl.

De Beer het vandeesweek hofstukke by die Pretoriase hooggeregshof ingedien waarin hy aanvoer dat die minister die appѐlproses misbruik.

“Die boodskap wat die respondent [Dlamini-Zuma] aan die redelike persoon stuur, is dat hierdie hof geen mag het oor ʼn regering wat die basiese menseregte van al ons mense geskend het sedert die begin van die sogenaamde algehele landwye afsondering nie,” lui die hofstukke wat Maroela Media onder oë gehad het.

Volgens De Beer skuil die regering agter die “cliché” van die beskerming van lewens. Die LFN voer egter aan dat lewens en Suid-Afrikaners se manier om ʼn bestaan te maak, juis verlore gaan weens die afsonderingsregulasies.

Volgens De Beer gaan die regering bloot voort om ongrondwetlike afsonderingsregulasies in te stel. Daar word in die hofstukke verwys na die verpligte dra van maskers, die herinstel van die verbod op alkohol, asook die voortslepende verbod op tabakprodukte.

“Die applikante glo nou meer as ooit dat die respondent, met respek, geen benul het wat sy doen nie.”

Luidens dié hofstukke sal die saak na verwagting eerskomende Dinsdag aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jdb ·

Daar is ernstig fout met ons regstelsel. Die howe is oorvol, regters neem maande on uitspraak te lewer, en elke uitspraak kaan oor en oor geappelleer word.

Adeline ·

Moenie grond beledig nie – dit is waardevol en bring lewe.

Persheks Adri ·

Al weer die “slim” minister! Dis oor en oor dieselfde ou storie en minagting van die hof! Sy kom ook met als weg – swak verskonings, dubbelsinnige reels, korrupsie en die GEEN vervolging van sigarette en drank nie en maak te lekker geld op die swart mark!!!

KB ·

Minister NDZ is skuldig aan verskeie sake (parlementêre vrae wat ontduik word (reeds iets soos 112 uit 114!). Verder was haar appèl ‘n dag laat (LFN-saak), maar regter Davis het dit wel toegelaat (hoekom?!).
NDZ is skuldig aan minagting vd hof…sy vertrap parlementêre reëls/regulasies…sy maak haar eintlik skuldig aan hoogverraad. Dit het tyd geword om haar agter tralies te sit. Waar is die VF Plus, die DA
Afriforum of Solidariteit?

marius ·

Hierdie mense weet presies waarmee hulle besig is , en geen hof sal hul planne in die wiele ry nie . Dit lyk na ‘n wanordelike spul , maar alles is haarfyn beplan . Glo dit maar .

Pieter ·

Wat se regstelsel die regters is net soos die regering vir wie hulle werk. Ek wonder of weet hulle wie betaal hulle selarisse. Die vf moet die belasting boikot aan die gang kry daar is miljoene van ons wat dit sal ondersteun. Ons moet die komuniste se geld krane begin toe draai. Ons kry in elk geval niks diens van die korrupte ANC af nie.

marius ·

Hulle het voorsiening gemaak daarvoor ook . Dit is waarom die ekonomie vernietig moet word sodat daar geen verdienste kan wees om as wig te gebruik nie . Dieselfde taktiek as wat in die VSA begin is , vanaf dieselfde heersers .

Tino ·

Hopelik kan ons ‘n delinquent minister verklaring kry met Dudu se direkteurskap

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.