Verklik dié wat beeste skuif, vra Noord-Kaap

(Argieffoto)

Die Noord-Kaapse departement van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming het ʼn beroep op mense gedoen om enige verskuiwing van beeste in en om die provinsie by die polisie of die staatsveearts aan te meld.

Die minister van landbou, Thoko Didiza, het verlede week ʼn drie weke lange verbod op die verskuiwing van beeste in die Staatskoerant aangekondig in ʼn poging om die verspreiding van bek-en-klouseer te bekamp. Die verbod sal weekliks hersien word. Diegene wat wel beeste sonder toestemming skuif, kan strafregtelik aangekla word.

Geen gevalle van bek-en-klouseer is tot dusver in die Noord-Kaap aangemeld nie, maar teen verlede week was daar al 116 voorvalle van uitbrekings by voerkrale en op plase in KwaZulu-Natal, Limpopo, Noordwes, die Vrystaat, Gauteng en Mpumalanga.

“Ons doen ʼn beroep op lede van die publiek om ons te help deur diegene wat hulle vermoed lewende beeste in en om hul omgewing verskuif, aan te meld. Enigiemand wat vermoed dat lewende beeste verskuif word of bewus is daarvan, word ingevolge wetgewing vereis om die polisie se veediefstaleenheid of die staatsveearts in te lig,” sê Mase Manapole, LUR vir landbou in die Noord-Kaap.

“Die samewerking van die bedryf en alle belanghebbendes in die provinsie is van die grootste belang,” sê sy.

Die verbod geld net vir die verskuiwing van beeste, omdat dit volgens die departement die grootste oorsaak van die huidige uitbreking is. Die vervoer van beeste vir sogenaamde rituele doeleindes mag steeds met ʼn permit gedoen word.

Sommige kenners meen die regering het reeds veels te lank gesloer met daadwerklike stappe om die siekte in bedwang te bring en dat dit nou buite beheer versprei.

Botswana en Namibië het reeds die in- en uitvoer van beeste na en van Suid-Afrika opgeskort en China het in April al ʼn verbod op die uitvoer van wol uit Suid-Afrika ingestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SjN ·

Begin eerstens by die loslopende diere wat enige iets op die ashope verober en nie eens aanvulling kry nie, stop ook dan die vervoer van tradisionele rituele waar dit geslag word in haglike omstandighede, dit is mos deel van die pandemie.

Johann101 ·

Gaan soek die culprits wat bek & klou doelbewus in areas versprei…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.