‘Verkragter’ doen hom glo as fotograaf voor

Foto: Pixabay

ʼn 32-jarige man wat homself glo as ʼn fotograaf vir modelagentskappe voorgedoen en dan meisies verkrag het, is dié week in die Port Elizabeth-landdroshof in die Oos-Kaap borgtog geweier.

Die saak teen Khululekani Justin Ngqeza is tot 12 November uitgestel vir verdere ondersoek.

Anelisa Ngcakani, provinsiale woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê Ngqeza het glo jong meisies wat modelle wil word op Facebook gelok om fotosessies by te woon.

“Hy sou met hulle begin kommunikeer en dan private fotosessies met hulle reël. Tydens die fotosessies sal hy begin deur hulle af te neem waarna hy hulle glo seksueel sou aanrand en verkrag.”

Daar word beweer dat Ngqeza in Maart vanjaar ʼn 17-jarige meisie in Port Elizabeth verkrag het. Hy word ook verbind met die verkragting van nog ʼn 17-jarige meisie ʼn maand later in Komani (Queenstown).

Ngqeza is op 19 Mei in hegtenis geneem waarna hy in die Queenstown-landdroshof verskyn het en op borgtog van R2 000 vrygelaat is.

Nadat hy deur nog ʼn vermeende slagoffer uitgewys is tydens ʼn uitkenningsparade is hy weer in hegtenis geneem.

Volgens Ngcakani ondersoek die polisie tans soortgelyke sake in die Wes-Kaap en Gauteng.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Persheks Adri ·

Wat gaan aan met die regstelsel? Ek weet eintlik wat die antwoord is, maar los eerder. Bly hy’s nou borg geweier die gemors!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.