Vermeende ontvoerders vas

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplashed)

ʼn Man wat Saterdag glo by sy sakeperseel in Hercules in Pretoria ontvoer is, is vandeesweek gered terwyl sewe vermeende ontvoerders in verband met dié ontvoering in hegtenis geneem is.

Die verdagtes sal Vrydag in die Pretoria Sentraal-landdroshof op aanklag van ontvoering en afpersing verskyn.

Die inhegtenisnemings volg nadat ’n multidissiplinêre ondersoekspan aangestel is om sake van ontvoering te ondersoek waartydens lospryse geëis word.

Volgens lt.kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, is ʼn buitelandse burger Dinsdag op die N12-roete in die rigting van Potchefstroom in Noordwes in hegtenis geneem nadat intelligensie-inligting opgevolg is.

“Die verdagte was in besit van bankkaarte en die bestuurslisensie wat aan ʼn ander slagoffer behoort wat verlede jaar glo in Gugulethu in die Wes-Kaap ontvoer is.”

Verdere ondersoeke het die polisie na Crystal Park in Ekurhuleni gelei waar die Pretoriase sakeman gered is. Drie verdagtes wat by die slagoffer wag gehou het, is in die proses in hegtenis geneem.

“ ʼn Vuurwapen en ʼn speelgoedgeweer is ook op die perseel gevind.

“Opvolgondersoeke het die polisie verder na Tembisa gelei waar nog drie verdagtes in hegtenis geneem is. Die verdagtes het die slagoffer se gesin na bewering gekontak en ʼn losprys vir sy vrylating geëis.”

Die ondersoekspan het onder andere uit lede van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, die Potchefstroomse snelwegpatrollie, provinsiale operasionele spanne van Gauteng en Noordwes, gyselaaronderhandelaars van Tshwane en private veiligheidspanne bestaan.

Netshiunda sê dié spanne het onverpoosd gewerk om die slagoffer veilig op te spoor en te red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marcello ·

Puik span werk… Dit is goed om sulke positiewe nuus te hoor.

Eden ·

Volgens Twitter het ‘n Pakistani en 6 Zimbos ‘n ander Pakistani ontvoer. Terloops, wat het geword van daai storie van die Indiese kinders wat daar in Polokwane eers ontvoer is en toe teruggkry is en daarna land uit is? Alles is nou maar stil. Baie Afrikaanse mense was erg ontsteld oor daai “ontvoering”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.